Nuwe Jaar, Nuwe GenadeVoorbeeld

New Year, New Mercies

DAG 14 VAN 15

Moenie vandag moedeloos raak nie. Jy kan jou "wat as" en "as ek maar net" in die hande van die Een los wat jou liefhet en alle dinge beheer.

Al is jy 'n gelowige persoon wat 'n bietjie Bybelkennis of teologiese insig het, is daar een ding wat jy vir seker kan weet – God sal jou verwar. Jou teologie sal jou net 'n beperkte vermoë gee om jou ervarings te verklaar. Die opdragte, beginsels en gevallestudies van die Skrif, sal jou net 'n bietjie help as jy uit die lewe sin wil maak. Daar sal oomblikke wees wanneer jy doodeenvoudig nie sal verstaan wat aangaan nie. Om die waarheid te sê, daar sal oomblikke wees wanneer dit nie sal voel of God, wat verklaar het dat Hy goeie dinge in jou lewe bring, sulke goeie dinge gebring het nie. Daar sal slegte dinge met jou gebeur, regtig baie slegte dinge. 

As jou geloof gebaseer is op jou vermoë om die verlede, die hede en die toekoms ten volle te verstaan, sal jou verwarde oomblikke oorgaan in verswakkende geloof. In werklikheid sal jy nie net twee keuses hê nie – verstaan alles en rus in vrede óf verstaan min en word deur angstigheid geteister. Daar is wel 'n derde manier. Dit is waarlik die pad van ware Bybelse geloof. Die Bybel sê dat jy ware vrede kan vind as jy rus in die wysheid van die Een wat al jou "wat as" en "as ek maar net" in sy liefdevolle hande hou. Jesaja som dit goed op met hierdie bemoedigende woorde: "... Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel" (Jesaja 26:3). 

Ware, standvastige, volhoubare vrede, vrede wat nie aan omstandighede gekoppel is nie, kan nie gevind word as jy al die deeltjies van jou lewe uitmekaar haal om dit te verstaan nie. Jy sal nooit alles verstaan nie, want God hou sekere dinge verborge, vir jou heil en sy heerlikheid. Vrede word dus net in vertroue gevind – vertrou op die Een wat in beheer van al die dinge is wat jou vrede kan steel. Hy weet, Hy verstaan, Hy is in beheer van dit wat soos wanorde lyk. Hy is nooit verras nie, Hy is nooit verward nie, Hy is nooit bekommerd nie, Hy het nie slapelose nagte nie, Hy verlaat nooit sy werk om 'n bietjie te rus nie, Hy is nooit te besig met een ding om iets anders af te skeep nie en Hy het nie witbroodjies nie. 

Jy moet jouself oor en oor herinner aan sy wyse, liefdevolle beheer, nie omdat jou lewe dan ewe skielik sin sal maak nie, maar omdat dit vir jou rus en vrede sal bring in daardie oomblikke wat ons almal op 'n stadium in ons lewe in die gesig staar – veral wanneer die lewe geen sin maak nie. 

Dag 13Dag 15

Aangaande hierdie leesplan

New Year, New Mercies

Oor die loop van die volgende 15 dae sal Paul David Tripp jou herinner aan God se genade teenoor jou – waarhede wat nooit oud word nie. Wanneer "gedragsverandering" of 'n goeie spreuk nie genoeg is om jou nuut te maak nie, leer om op God se goedheid te vertrou, staat te maak op sy genade en elke dag tot sy heerlikheid te leef.

More

Baie dankie aan Crossway wat hierdie leesplan voorsien het. Vir meer inligting besoek asseblief: https://www.crossway.org/books/new-morning-mercies-hcj/