Nuwe Jaar, Nuwe GenadeVoorbeeld
Ja, dit is waar – God sal getrou bly al is jy nie, want sy getrouheid berus op wie Hy is en nie op wat jy doen nie.
In 2 Timoteus 2:13 staan: "as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie." Hierdie vers stel 'n ander radikale manier van lewe voor, een wat nie vir die meeste van ons natuurlik is nie. Ons lewensuitkyk is meestal so: "jy moet jou eie lewe lei," "jy is in beheer van jou lewe," "maak jou keuses en gaan voort" of "jy kan niemand anders as jouself blameer nie." Vanuit hierdie standpunt, is jy in beheer van jou lot. Jy het min om op staat te maak, behalwe jou instinkte, jou krag, jou wysheid wat jy oor die jare opgedoen het, jou vermoë om te kan voorsien wat gaan gebeur, jou karakter en volwassenheid en die natuurlike talente wat aan jou gegee is. Dit is 'n vreesaanjaende manier van lewe: jy alleen teen die hele wêreld.
Wanneer jy egter in God se familie verwelkom word, verander alles. God vergewe nie slegs jou sondes en waarborg vir jou 'n plek in die ewigheid nie, maar bowenal kry jy 'n radikale nuwe manier van lewe. Die nuwe lewe gaan nie net daaroor om onderdanig te wees aan God se morele kode nie. Nee, dit gaan oor God wat Homself verbind tot 'n verbond met jou om altyd getrou te bly en sy wysheid, krag en genade tot jou beskikking te stel, tot jou voordeel, vir ewig. Dink 'n bietjie daaroor. Die Een wat die wêreld geskape het en dit beheer, die Een wat liefde, trou en goedheid definieer, en die enigste Een wat die mag het om sonde te oorwin, het gekies om sy arms van troue liefde en beskerming om jou te vou en jou nooit te los nie, en dit alles net as gevolg van sy genade.
Jy hoef nie langer jou lewe op jou skouers te dra nie, want God het dit op Syne geplaas. Dit beteken egter nie dat dit nie saak maak hoe jy lewe nie, maar dat jou sekuriteit nie in jou getrouheid te vinde is nie, maar in Syne. Jy kan Hom vertrou al kan jy jouself nie vertrou nie. Hy sal getrou en goed wees, selfs as jy nie is nie. Hy sal die beste en wat reg is doen al doen jy nie die regte dinge nie. En Hy is getrou om jou te vergewe wanneer genade jou laat besef hoe ontrou jy was.
In plaas daarvan om jou carte blanche te gee om enigiets te doen, moet hierdie waarheid jou die motivering gee om aan te gaan. Sy genade nooi jou om in die een ding te belê waaraan daar nooit 'n tekort sal wees nie: die getrouheid van jou Here.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Oor die loop van die volgende 15 dae sal Paul David Tripp jou herinner aan God se genade teenoor jou – waarhede wat nooit oud word nie. Wanneer "gedragsverandering" of 'n goeie spreuk nie genoeg is om jou nuut te maak nie, leer om op God se goedheid te vertrou, staat te maak op sy genade en elke dag tot sy heerlikheid te leef.
More