121 AdventVoorbeeld
Hoe Ervaar Ons Vrede?
Sy het geweet sy was nie veronderstel om daar te wees nie. Dit was die huis van 'n Fariseër, 'n godsdienstige leier in die gemeenskap, en sy was 'n sondaar, 'n "vrou van die nag". Almal was bewus van die omstandighede van haar lewe. Haar siel was in 'n warboel oor die sonde in haar lewe. Daar was voortdurend vyandigheid tussen haar en die mense om haar en ook tussen haar en God.
Iets het haar egter na die huis getrek. Of liewer, Iemand het haar getrek. Hierdie vrou het in haar diepste wese besef dat indien sy ooit vrede in haar lewe gaan hê, kan Jesus, die Vredevors, dit vir haar gee. In 'n geweldige geloofsdaad het sy haar aan Jesus se voete neergewerp, berouvol oor die sonde in haar lewe en gebroke oor die vrede waarna sy gesmag het. Sy het geweet God het haar vir meer geskape. Vir 'n goeie lewe vol vrede. Tog was dit tot nou toe afwesig in haar lewe. Haar lewe het bestaan uit sonde, nie vrede nie. Miskien, net miskien, kon Jesus vir haar 'n voorsmakie gee van vrede in haar gefolterde lewe.
In net agt woorde het Jesus alles verander. “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede” (Lukas 7:36-50).
Ons het almal 'n verlange na vrede in ons lewens. Ons almal verlang dat die gebrokenheid en die warboel wat sonde bring, vervang moet word deur vrede. Hoe kry ons dus ware vrede? Hoe kan ons ons lewens in vrede lei? JESUS! JESUS! JESUS! As ons by sy voete gaan sit en volkome op Hom vertrou, gaan die Vredevors ons bedek met vrede tot in alle ewigheid! Jesus is die Gewer van vrede in ons lewens!
Gesinne Met Jong Kinders
Lees Lukas 19:1-10. KINDERS: Hoekom het Saggeus nie baie vriende gehad nie? (want hy het mense bedrieg (van hulle gesteel) en hy was nie eerlik nie) Vir wie wou Saggeus gesien het? (vir Jesus) Wat het hy gedoen om Jesus te sien? (hy het in 'n boom geklim) Het Jesus verbygeloop en gemaak of Hy hom nie sien nie? (nee) Wat het Jesus gedoen toe Hy hom gesien het? (Jesus het vir hom gesê dat Hy na sy huis toe kom) Jesus het Saggeus geken, maar Hy het hom tog steeds liefgehad. Jesus wou sy volmaakte vrede vir Saggeus gee. Saggeus was skaam, hy wou ophou met sy verkeerde dinge en begin om die regte dinge te doen. Jesus het hom vergewe en hy het begin om die vrede te ervaar wat net van Jesus kan kom.
Voorgestelde aktiwiteit: Soek 'n klein boksie, skryf daarop "God se boksie". Vat 'n stuk papier en skryf daarop: "Here, ek gee aan U my probleme met wiskunde, rugby, netbal, lees, vriende", ens.Skryf dan: "Ek gaan nie meer bekommerd wees nie." Bid tot die Here en sit die papier in die boksie. God wil hê jy moet al jou probleme op Hom plaas met die vertroue dat Hy dit vir jou gaan oplos. Plaas die boksie op 'n plek waar jy dit elke dag kan sien sodat jy daaraan herinner word dat God in beheer van jou probleme is.
Lees Lukas 2:8-12. KINDERS: Wat is 'n skaapwagter? (iemand wat vir skape sorg en hulle beskerm teen gevaar) Hoekom was die skaapwagters bang? (dit was donker, hulle kon dalk geslaap het, hulle het gedink hulle is alleen in die veld, hulle het nie verwag om 'n engel te sien nie) Watter nuus het die engele vir die skaapwagters gebring? (dat Jesus gebore is) Hoe het hulle die baba Jesus opgespoor? (daar was 'n ster wat bokant die stal geskyn het)
Wanneer jy vanaand bid, bedank God dat hy die herders gestuur het om Jesus te kry. Sê vir Hom dankie dat Hy vir hulle die pad gewys het! Bedank God vir jou vriende en vra Hom om jou te help om 'n baie goeie vriend te wees. Sê dankie vir Jesus dat Hy jou beste vriend is en dat Hy altyd by jou is.
Aangaande hierdie leesplan
Die geboorte van Jesus, sy advent (koms), is God se uiteindelike plan vir ons verlossing. In Christus sien ons die volle prentjie van God se hoop, vrede, vreugde en liefde. Die Woord van God is die waarheid waardeur ons Hom ken en daagliks met Hom wandel. Dit is ons hoop dat hierdie leesplan jou sal bemoedig om persoonlike tyd in die Woord deur te bring en dat dit 'n bron sal wees vir gesinne met kinders om dit saam te lees.
More