121 AdventVoorbeeld
Bedrywigheid: 'n Hindernis Vir Vrede
Baie jare gelede, het twee susters 'n geleentheid gehad wat ons maar net oor kan droom. Hulle het Jesus in hulle huis as hulle gas ontvang. Hoeveel van ons sal wat wil gee om Jesus in ons huise te ontvang? Regtig. Jesus!
Hulle, Maria en Marta, het egter die geleentheid aangegryp en Jesus ontvang. Soos baie van ons sekerlik ook sou doen, wou Marta seker maak alles is perfek in haar huis om Jesus te ontvang. Sy het die huis uitgevee, sy het skoongemaak, drinkgoed gereed gekry, kos gemaak en hard gewerk om die huis in orde te kry om Jesus te ontvang. Maria het niks hiervan gedoen nie. Sy het bloot net by Jesus se voete gaan sit, gekyk, geluister en alles ingeneem.
Marta, wat nog steeds rondgehardloop het om seker te maak alles is gereed, het haar lui suster aangespreek en Jesus gevra om tussenbeide te kom. Jesus se reaksie is baie insiggewend. “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” (Lukas 10:41-42).
Te midde van haar bedrywigheid het Marta haarself opgewerk en haar fokus verloor. Sy het die geleentheid met Jesus misgeloop. Sy was onder die indruk dat haar bedrywigheid 'n toonbeeld van 'n goeie gasvrou was, maar dit was vir haar 'n hindernis om by die Vredevors te wees. Bedrywigheid word soms verwar met produktiwiteit, selfs geestelikheid. Baie dikwels weerhou dit ons van wat werklik saak maak — om by die voete van ons Redder te sit en sy vrede te geniet!
Gesinne Met Jong Kinders
Lees Lukas 10:38-42. KINDERS: Hoekom was Marta omgekrap met haar suster Maria? (Marta was hard besig om alles reg te kry vir Jesus se besoek en haar suster het met Jesus gesit en gesels in plaas daarvan om haar te help) Het dit al ooit vir jou gevoel of iemand lyf wegsteek? Miskien 'n broer of suster wat nie hulle deel van julle huiswerkies doen nie of 'n spanmaat wat nie sy kant bring nie? Hoe het jy daaroor gevoel? Het jy al ooit gevoel jy is te besig om tyd met Jesus in gebed deur te bring of jou Bybel te lees? Wat dink jy kan jy doen om jouself te dissiplineer om meer tyd vir Jesus te maak? Jesus begeer om jou vriend te wees en vir jou om 'n goeie vriend te wees, moet jy meer tyd vir Hom maak.
Kersfees is oor twaalf dae! Dink aan 'n paar dinge wat jy kan doen ter voorbereiding van die GROOT dag. Hoe sal jy Jesus se geboortedag herdenk? Wat kan jy in die huis doen om jou ouers te help dat hulle nie te besig raak in hulle voorbereidings vir Kersfees nie?
Voorgestelde Aktiwiteit: Dink aan vriende of bure wat jy kan uitnooi na 'n Verjaarsdagpartytjie vir Jesus! Miskien kan jy die partytjie hou aan die begin van die Kersvakansie. Kry eetgoed, speel speletjies, luister na Kersliedjies of sing die liedjies en raai wat die name daarvan is. Vertel die verhaal van Jesus se geboorte en laat jou vriende en bure verstaan hoekom Kersfees so 'n GROOT dag is!
Bid dat God jou sal help om gedissiplineerd te wees in die tyd wat jy maak om in gebed met Hom tyd deur te bring en sy Woord te lees. Bedank God dat Hy jou liefhet en dat Hy sy Seun gestuur het om jou beste vriend te wees.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Die geboorte van Jesus, sy advent (koms), is God se uiteindelike plan vir ons verlossing. In Christus sien ons die volle prentjie van God se hoop, vrede, vreugde en liefde. Die Woord van God is die waarheid waardeur ons Hom ken en daagliks met Hom wandel. Dit is ons hoop dat hierdie leesplan jou sal bemoedig om persoonlike tyd in die Woord deur te bring en dat dit 'n bron sal wees vir gesinne met kinders om dit saam te lees.
More