Rig jou Denke — Bewaak jou Hart — Hou jou Tong in BedwangVoorbeeld
Voel jy ooit dat jy dalk 'n gesplete persoonlikheid het? Jy is baie vriendelik met jou predikant, bure en die vrouens in jou gebedsgroep, maar as jy egter met jou man se slordige maniere, jou kinders se gebrek aan dissipline of jou ma se inmenging gekonfronteer word, word jy 'n skreeuende feeks met geen bewyse van die heerlike vrug van die Heilige Gees nie!
Ek kan jou verseker dat jy nie 'n gesplete persoonlikheid het nie. Jy is maar net 'n vrou met 'n siel en 'n gees. Jou siel, onder invloed van die sondige aard van die mens, sal probeer om jou aan jou emosies vas te ketting en jou weg te lei van die karakter van Christus af. Jou gees sal altyd die waarheid van die Bybel probeer naboots, maar sal jou nooit dwing om Christus bo jou ontwrigtende emosies te kies nie. Watter een wil jy hê moet in beheer van jou lewe wees — jou siel of jou gees?
Die gees is die lewensbeginsel wat God aan die mens gegee het. Dit is dié deel van 'n mens wat in staat is om ewige begrippe en gewyde beginsels te verstaan. Jou gees is eenvoudig die deel van jou wese waarop die Gees van God sy belangrikste en lewensveranderende invloed uitoefen. Dit is ook dié deel van jou wat aangewys is om jou hart (of siel) te bewaak.
Die siel is merkwaardig anders as die gees. Die gees is 'n meer verhewe en eerbare deel van ons onsigbare samestelling en die siel is laer en teer dikwels op die leë kalorieë van tydelike kwessies en omstandighede. Die Bybel verwys dikwels na die siel as die denke of die hart.
As dit verwaarloos word, sal jou gees in 'n verswakte en oneffektiewe toestand voortbestaan. Jou siel moet met gesonde voedingstowwe gevoed word om optimaal te funksioneer. Dit wat jy kies om op emosionele vlak in te neem, sal bepaal hoe gesond jou siel is as die lewe uitdagend word.
Onthou dat jou gees net soos die Woord van God klink wanneer dit praat en jou siel dikwels 'n houding van slagoffer inneem en altyd sy eie sin wil kry. Wanneer jy weer voor 'n uitdagende oomblik in jou lewe te staan kom, laat jou gees toe om op te staan en vir jou siel te sê om te gaan sit!
Persoonlike Toepassing: Watter een dink jy is hoofsaaklik in beheer van jou persoonlike lewe — jou gees of jou siel?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons het almal al woorde "onder die invloed" van verwarrende gevoelens en benewelde denke geuiter. Baie gou het ons gewens dat ons die towerkrag gehad het om daardie woorde ongedaan te maak. Dis ons gedagtes en emosies wat bepaal watter woorde oor ons lippe kom. "Rig jou Denke — Bewaak jou Hart — Hou jou Tong in Bedwang" sal jou in staat stel om beheer te neem oor jou denke en gevoelens sodat jou woorde vol genade kan wees.
More