U, HERE, is my deel,
ek het onderneem om u woorde
na te kom.
Ek het met my hele hart
u guns gesoek:
Wees my genadig volgens u belofte.
Ek het my paaie bedink
en my voete teruggebring
na u bepalings.
Ek het my gehaas en nie getalm
om u bevele na te kom nie.
Die toue van goddeloses
het my omstrengel,
maar u wet het ek nie vergeet nie.
In die middel van die nag
staan ek op om U te prys
oor u regverdige beslissings.
Ek is 'n vriend van almal
wat vir U ontsag het,
en u opdragte nakom.
HERE, u troue liefde vul die aarde;
leer my u voorskrifte.
U het goed gedoen aan u dienskneg,
HERE, volgens u woord.
Leer my goeie oordeel en kennis,
want ek vertrou op u bevele.
Voordat ek swaar beproef is,
was ek aan die dwaal,
maar nou kom ek u woord na.
U is goed en doen goed;
leer my u voorskrifte.
Vermeteles het my
met leuens beswadder;
maar ek, met my hele hart
hou ek by u opdragte.
Hulle harte is so gevoelloos
soos vet,
maar ek vind vreugde in u wet.
Dit is goed vir my
dat ek verneder was,
sodat ek u voorskrifte kon leer.
Die onderrig uit u mond
is vir my beter as duisende
stukke goud en silwer.
U hande het my gemaak,
my gevestig;
maak my verstandig,
ek wil u bevele leer.
Hulle wat vir U ontsag het,
sien my en is bly,
want op u woord wag ek.
Ek weet, HERE,
dat u beslissings regverdig is,
en dat U my in getrouheid
verneder het.
Laat u troue liefde tog vir my
tot troos wees
volgens u woord aan u dienskneg.
Laat u ontferming my deel word,
sodat ek kan lewe;
want u wet is my vreugde.
Laat vermeteles beskaamd staan,
want sonder rede veronreg hulle my;
maar ek sal bly nadink oor u opdragte.
Laat hulle wat vir U ontsag het,
na my terugkeer,
ja, hulle wat u bepalings ken.
Laat my hart onberispelik
aan u voorskrifte hou,
sodat ek nie beskaamd staan nie.
My •siel smag na u verlossing;
op u woord wag ek.
My oë smag na u belofte en vra:
“Wanneer sal U my troos?”
Want ek het geword
soos 'n stuk vel vol rook,
maar u voorskrifte
het ek nie vergeet nie.
Hoeveel dae is daar nog
vir u dienskneg?
Wanneer gaan u die oordeel voltrek
oor my vervolgers?
Vermeteles het vir my
vangkuile gegrawe,
hulle wat nie volgens u wet
optree nie.
Al u bevele is betroubaar,
maar hulle vervolg my sonder rede.
Help my!
Byna het hulle my vernietig
hier op aarde,
maar ek, ek het u opdragte
nie verontagsaam nie.
Maak my lewend
in ooreenstemming met
u troue liefde,
sodat ek die bepalings
uit u mond kan nakom.
Vir ewig, HERE,
staan u woord vas in die hemel.
Van geslag tot geslag duur u trou;
U het die aarde gevestig
en dit hou stand.
Volgens u beslissings
hou dit vandag nog stand,
want alles is u diensknegte.
As u wet nie my vreugde was nie,
sou ek in my ellende
vergaan het.
Tot in ewigheid sal ek
u opdragte nie vergeet nie,
want daardeur het U my lewend gemaak.
Aan U behoort ek; verlos my,
want na u opdragte streef ek.
Goddeloses wag my in
om my te vernietig;
op u bepalings slaan ek ag.
Ek het gesien
aan alle volmaaktheid
kom daar 'n einde,
maar u gebod is besonder ruim.
Hoe lief het ek u wet –
die hele dag dink ek daaroor na.
U gebod maak my wyser as my vyande,
want dit is altyd daar vir my.
Ek is verstandiger as al my leermeesters,
want u bepalings is vir my
stof tot nadenke.
Ek het meer insig as oumense,
want by u opdragte hou ek.
Van elke slegte pad
het ek my voete weerhou
sodat ek u woord kon onderhou.
Van u beslissings
het ek nie afgewyk nie,
want dit is U wat my onderrig.
Hoe strelend is u woord vir my verhemelte,
meer as heuning vir my mond.
Uit u opdragte kry ek insig;
daarom haat ek elke bedrieglike pad.
U woord is 'n lamp vir my voet
en 'n lig vir my lewenspad.
Ek het 'n eed afgelê
– en daarby gehou –
om u regverdige beslissings na te kom.
Ek is baie terneergedruk;
HERE, maak my lewend
volgens u woord!
Laat die vrywillige offers van my mond
tog vir U aanvaarbaar wees, HERE,
en leer my u beslissings.
My lewe is voortdurend in my hande;
maar u wet vergeet ek nie.
Goddeloses het vir my 'n net gespan,
maar van u opdragte
het ek nie afgewyk nie.
Ek het u bepalings as blywende
erfporsie ontvang;
ja, dit is die vreugde van my hart.
Ek rig my hart daarop
om u voorskrifte uit te voer –
vir altyd, tot die einde toe.