PSALMS 119:57-112

PSALMS 119:57-112 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek het gesê: “Dít is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.” Ek smeek U met my hele hart: “Wees my genadig, soos U beloof het. Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer. Ek talm nie, ek haas my om u gebooie te onderhou.” Die goddeloses wou my in hulle strikke kry, maar ek het u wet nie verontagsaam nie. Selfs in die middel van die nag staan ek op om U te loof vir u regverdige bepalings. Ek is 'n vriend van almal wat U dien en u bevele gehoorsaam. Die aarde is vol van u troue liefde, Here. Leer my u voorskrifte. U het aan my goed gedoen, Here, soos U beloof het. Gee my goeie insig en kennis, want ek stel my vertroue in u gebooie. Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord. U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte. Hovaardige mense beswadder my, maar ek voer u bevele uit met my hele hart. Hulle staan koud teenoor u wet, maar ék verlustig my daarin. Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer. U wet is vir my kosbaarder as 'n oorvloed van goud en silwer. Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm; gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan. Dié wat U dien, is bly as hulle my sien, want ek vertrou op u woord. Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is 'n teken van u trou. Gee tog vir my uitkoms deur u troue liefde, soos U my beloof het. Ontferm U oor my, dat ek kan lewe, want ek verlustig my in u wet. Laat die hovaardige mense die slegste daarvan afkom, want hulle het my vals beskuldig; u bevele bly my altyd by. Laat dié wat U dien en u verordeninge ken, aan my kant wees. Laat my volledig by u voorskrifte bly, sodat ek nooit raad-op sal wees nie. Ek smag na u redding, ek vertrou op u woord. Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofte en vra: “Wanneer gee U tog vir my uitkoms?” Ek het verskrompel soos 'n velsak in die rook, maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie. Hoe lank moet ek nog so lewe? Wanneer straf U my vervolgers? Die hovaardiges, wat nie volgens u wet lewe nie, het vir my meer as een keer 'n gat gegrawe om in te val. Op al u gebooie kan ek my verlaat. Help my, want dié mense vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar u bevele het ek nie verontagsaam nie. Hou my in die lewe omdat U my liefhet, dan sal ek u onderwysing gehoorsaam. U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel. U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde gemaak, en dit staan vas. Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas, alles is aan U onderworpe. As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom in my ellende. Ek sal u bevele nooit verontagsaam nie, want deur hulle het U my in die lewe gehou. Ek behoort aan U, red my, want ek vra steeds wat u bevele is. Al staan die goddeloses gereed om my te vernietig, u verordeninge sal ek in ag bly neem. Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie. Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by. Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele. Ek het my voete van elke verkeerde pad af gehou sodat ek gehoorsaam kan wees aan u woord. Van u bepalings het ek nie afgewyk nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Ek het 'n eed afgelê, en daarby sal ek bly, om my aan u bepalings te hou; hulle is regverdig. Ek ly swaar, Here, hou my in die lewe, soos U beloof het. Neem tog my dank aan, Here. Leer my u bepalings. My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie. Die goddeloses stel vir my 'n strik, maar van u bevele wyk ek nie af nie. U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my 'n vreugde. Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer, tot die einde toe.

PSALMS 119:57-112 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

HERE, ek behoort aan U! Ek sê ek wil u woord gehoorsaam. Met my hele hart soek ek U. Wees genadig soos U beloof het. Ek het my lewenspad oordink en het teruggedraai om volgens u voorwaardes te lewe. Ek wil gou maak en sonder versuim u gebooie gehoorsaam. Bande van bose mense verstrik my, maar ek vergeet nie u gebooie nie. Middernag staan ek op om U te dank vir u regverdige bepalings. Ek is ’n vriend vir almal wat U dien, vir elkeen wat u bevele gehoorsaam. HERE, die aarde is vol van u trou; leer my tog u voorskrifte. U het aan my goedgedoen, HERE, net soos U belowe het. Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u gebooie. Voor ek gely het, het ek telkens afgedwaal, maar nou leef ek volgens u woord. U is goed en doen net wat goed is; leer my u voorskrifte. Verwaande mense het leuens oor my verkondig, maar ek sal u bevele met my hele hart uitleef. Hulle harte is afgestomp en koud, maar ek verlustig my in u gebooie. Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer. Die gebooie uit u mond is vir my meer waardevol as baie goud en silwer. U hande het my gemaak, my gevorm. Gee my tog insig om u gebooie te verstaan. U dienaars sal my sien en bly wees, want op u woord hoop ek. Ek weet, HERE, u bepalings is reg; op grond van u trou bestraf U my. Laat u troue liefde my nou vertroos soos U aan u dienaar beloof het. Laat u medelye my oordek sodat ek kan lewe, want u gebooie is my vreugde. Laat die verwaandes in skande kom omdat hulle my vals beskuldig; maar ek sal u bevele oordink. Laat u dienaars terugkom na my toe, hulle wat u voorskrifte ken. Mag ek onberispelik wees in die uitleef van u gebooie; dan hoef ek nooit beskaam te wees nie. Ek verlang na u redding; ek vertrou op u woord. Ek ooreis my oë om te sien wanneer u beloftes waar word, en vra: “Wanneer sal U my vertroos?” Ek het verskrompel soos ’n wynsak in rook, maar ek vergeet nie u voorskrifte nie. Hoe lank moet u dienaar wag? Wanneer straf U my agtervolgers? Hierdie verwaande mense wat nie leef volgens u gebooie nie, het vir my vanggate gegrawe. Al u gebooie is betroubaar. Help my, want hulle vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar ek het geweier om af te sien van u bevele. Op grond van u troue liefde, spaar tog my lewe sodat ek kan voortgaan om u waarskuwings te gehoorsaam. U woord, HERE, is vir altyd, dit staan vas in die hemel. U trou is vir geslag na geslag, U het die aarde gevestig, en dit staan nog vas. U bepalings is vandag nog waar, want al hierdie dinge is u dienaars. As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende. Ek sal u bevele nooit vergeet nie, want daardeur gee U my die lewe. Ek behoort aan U; red my tog! Want ek vra na u bevele. Bose mense wag my in om my dood te maak, maar ek neem u waarskuwings in ag. Selfs volmaaktheid het sy perke, maar u gebooie ken geen grense nie. Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad. U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaargekry, HERE. Vernuwe my lewe volgens u woord. HERE, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe.

PSALMS 119:57-112 Bybel vir almal (ABA)

Here, ek het net vir U, ek het belowe dat ek sal doen wat U gesê het. Ek soebat en vra vir U met my hele hart, U moet genadig wees vir my, soos U belowe het. Wanneer ek dink aan hoe ek lewe, dan dink ek altyd weer aan wat U gesê het. Ek is haastig, ek wag nie, ek wil gehoorsaam wees aan u gebooie. Wanneer mense wat verkeerd doen, vir my in hulle vangnet wil vang, dan vergeet ek nie wat U vir ons geleer het nie. Ek staan in die middel van die nag op om vir U dankie te sê, want alles wat U besluit het, is reg. Ek is 'n vriend van al die mense wat vir U dien en wat doen wat U beveel. Here, U doen wat U belowe het, oral op die aarde, U moet vir my leer wat u wette sê. Here, U het goed gedoen aan my, u dienaar, dit is soos U gesê het. U moet vir my leer om te weet wat is reg en wat is verkeerd, want ek glo dat u gebooie reg is. Voordat dit met my so sleg gegaan het, het ek verkeerd gelewe, maar nou doen ek wat U sê. U is goed en U doen goed, U moet vir my leer wat u wette sê. Hoogmoedige mense lieg en hulle praat sleg van my, maar ek doen wat U beveel met my hele hart. Hulle wil nie verstaan wat U vir ons sê nie, maar ek geniet wat U vir ons leer. Dit was vir my goed dat U my laat swaarkry het, want so het ek geleer wat u wette sê. Die dinge wat U vir my leer, is beter as duisende stukke goud en silwer. Ú het my gemaak en Ú het my laat lewe, U moet vir my leer sodat ek u gebooie kan ken. Die mense wat vir U dien, sal na my kyk en hulle sal bly wees, want hulle sal sien ek glo dat U sal doen wat U gesê het. Here, ek weet dat U reg besluit, en dat U my laat swaarkry het omdat U gesê het U sal dit doen. U moet doen wat U belowe het, dit sal dinge beter maak vir my. U het dit vir my gesê, vir my, u dienaar. U moet jammer wees vir my sodat ek kan lewe, want ek geniet wat U vir my leer. U moet die hoogmoedige mense laat verloor, want hulle het vir my gelieg en hulle het my verlei. Ék wil dink aan wat U beveel het. U moet die mense wat vir U dien, na my toe laat kom, sodat hulle kan leer wat U gesê het. Ek wil heeltemal gehoorsaam wees aan u wette, sodat niemand my kan verneder nie. Ek wag en verlang daarna dat U my sal red, ek is seker dat U sal doen wat U gesê het. My oë is moeg, want ek hou aan om te kyk wanneer U dit weer goed sal laat gaan met my soos U belowe het. Ja, ek het geword soos 'n velsak wat in die rook hang, maar ek vergeet nie u wette nie. Ek is u dienaar. Hoe lank sal ek nog lewe? Wanneer straf U die mense wat my volg en jaag? Die hoogmoedige mense het gate gegrawe sodat ek daarin moet val, húlle is die mense wat nie doen wat U vir ons geleer het nie. Al u gebooie staan vas, dit verander nooit. Ek het niks verkeerd gedoen nie, maar mense volg my en jaag my. U moet my help. Ek het gedoen wat U beveel het, maar hulle het my amper doodgemaak. U moet my laat aanhou lewe, soos U belowe het, sodat ek kan doen wat U sê. Here, die dinge wat U vir ons gesê het, is altyd waar, dit staan vas in die hemel, dit verander nooit. U bly dieselfde vir elke geslag. U het die aarde gesit waar dit is, en dit is nog altyd daar. Alles is vandag nog daar, soos U besluit het, want almal doen wat U sê. Ek het geniet wat U vir ons leer. As dit nie so was nie, dan het ek gesterf, want ek kry swaar. Ek sal nooit vergeet wat U beveel het nie, want U het my so laat lewe. Ek behoort aan U, en U moet my red, want ek probeer om te doen wat U beveel. Die mense wat verkeerd doen, is gereed om my dood te maak, maar ek dink net aan wat U gesê het. Ek het gesien dat niks vir altyd aanhou nie, alles het 'n einde, maar u gebooie is oral en altyd daar. Ek is baie lief vir die dinge wat U vir my leer, ek dink die hele dag daaroor. U gebooie gee vir my wysheid, meer wysheid as wat my vyande het, want ek onthou altyd u gebooie. Ek is verstandiger as almal wat vir my geleer het, want ek dink aan wat U gesê het. Ek is slimmer as mense wat ouer is as ek, want ek doen wat U beveel het. Ek doen niks wat verkeerd is nie, ek wil doen wat U gesê het. Ek hou aan om te doen wat U besluit, want U self leer vir my. Dit is lekker om te praat oor die dinge wat U belowe het, dit is lekkerder as heuning. Ek verstaan wat U beveel het, daarom haat ek alles wat vals is. Die dinge wat U vir ons gesê het, is vir my soos 'n lamp wanneer ek in die donker loop, dit wys vir my hoe ek moet lewe. Ek het belowe, en ek sal dit doen: Ek sal doen wat U besluit, want U besluit reg. Dit gaan baie baie sleg met my, U moet my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Here, die dinge wat ek vir U sê, is offers wat ek graag vir U bring. U moet dit asseblief aanvaar en U moet vir my leer om te verstaan wat U besluit. Daar is altyd mense wat my wil doodmaak, maar ek vergeet nie wat U vir ons geleer het nie. Die mense wat verkeerd doen, wil my vang soos 'n mens voëls vang in 'n vangnet, maar ek hou aan om te doen wat U beveel. Ek wil altyd onthou wat U sê, want dit maak my baie bly. Ek het besluit om altyd te doen wat u wette sê, so lank soos ek lewe.

PSALMS 119:57-112 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Die HERE is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar. Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte. Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse. Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou. Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie. Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge. Ek is 'n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou. HERE, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge. U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord. Leer my 'n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie. Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. U is goed en doen goed; leer my u insettinge. Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele. Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet. Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer. Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer. Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek. Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het. Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg. Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging. Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele. Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken. Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie. My siel smag na u heil; op u woord wag ek. My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos? Want ek het geword soos 'n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie. Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers? Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie. Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my! Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie. Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou. Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele. U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan. Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte. As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende. Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak. Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele. Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse. Aan alle volmaaktheid het ek 'n einde gesien, maar u gebod is baie wyd. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer. Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou. Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord! Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge. My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie. Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie. Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart. Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.

PSALMS 119:57-112 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

U, HERE, is my deel, ek het onderneem om u woorde na te kom. Ek het met my hele hart u guns gesoek: Wees my genadig volgens u belofte. Ek het my paaie bedink en my voete teruggebring na u bepalings. Ek het my gehaas en nie getalm om u bevele na te kom nie. Die toue van goddeloses het my omstrengel, maar u wet het ek nie vergeet nie. In die middel van die nag staan ek op om U te prys oor u regverdige beslissings. Ek is 'n vriend van almal wat vir U ontsag het, en u opdragte nakom. HERE, u troue liefde vul die aarde; leer my u voorskrifte. U het goed gedoen aan u dienskneg, HERE, volgens u woord. Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u bevele. Voordat ek swaar beproef is, was ek aan die dwaal, maar nou kom ek u woord na. U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte. Vermeteles het my met leuens beswadder; maar ek, met my hele hart hou ek by u opdragte. Hulle harte is so gevoelloos soos vet, maar ek vind vreugde in u wet. Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer. Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. U hande het my gemaak, my gevestig; maak my verstandig, ek wil u bevele leer. Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek. Ek weet, HERE, dat u beslissings regverdig is, en dat U my in getrouheid verneder het. Laat u troue liefde tog vir my tot troos wees volgens u woord aan u dienskneg. Laat u ontferming my deel word, sodat ek kan lewe; want u wet is my vreugde. Laat vermeteles beskaamd staan, want sonder rede veronreg hulle my; maar ek sal bly nadink oor u opdragte. Laat hulle wat vir U ontsag het, na my terugkeer, ja, hulle wat u bepalings ken. Laat my hart onberispelik aan u voorskrifte hou, sodat ek nie beskaamd staan nie. My •siel smag na u verlossing; op u woord wag ek. My oë smag na u belofte en vra: “Wanneer sal U my troos?” Want ek het geword soos 'n stuk vel vol rook, maar u voorskrifte het ek nie vergeet nie. Hoeveel dae is daar nog vir u dienskneg? Wanneer gaan u die oordeel voltrek oor my vervolgers? Vermeteles het vir my vangkuile gegrawe, hulle wat nie volgens u wet optree nie. Al u bevele is betroubaar, maar hulle vervolg my sonder rede. Help my! Byna het hulle my vernietig hier op aarde, maar ek, ek het u opdragte nie verontagsaam nie. Maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde, sodat ek die bepalings uit u mond kan nakom. Vir ewig, HERE, staan u woord vas in die hemel. Van geslag tot geslag duur u trou; U het die aarde gevestig en dit hou stand. Volgens u beslissings hou dit vandag nog stand, want alles is u diensknegte. As u wet nie my vreugde was nie, sou ek in my ellende vergaan het. Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak. Aan U behoort ek; verlos my, want na u opdragte streef ek. Goddeloses wag my in om my te vernietig; op u bepalings slaan ek ag. Ek het gesien aan alle volmaaktheid kom daar 'n einde, maar u gebod is besonder ruim. Hoe lief het ek u wet – die hele dag dink ek daaroor na. U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke. Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek. Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou. Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig. Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my lewenspad. Ek het 'n eed afgelê – en daarby gehou – om u regverdige beslissings na te kom. Ek is baie terneergedruk; HERE, maak my lewend volgens u woord! Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees, HERE, en leer my u beslissings. My lewe is voortdurend in my hande; maar u wet vergeet ek nie. Goddeloses het vir my 'n net gespan, maar van u opdragte het ek nie afgewyk nie. Ek het u bepalings as blywende erfporsie ontvang; ja, dit is die vreugde van my hart. Ek rig my hart daarop om u voorskrifte uit te voer – vir altyd, tot die einde toe.

PSALMS 119:57-112 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

CHETH. U is my deel, HERE, ek het gesê dat ek U woorde sal bewaar. Ek het u guns gesmeek met my hele hart; wees my genadig volgens U woord. Ek het gedink aan my weë en my voete teruggedraai na u getuienisse. Ek het my gehaas en nie versuim om U gebooie te onderhou nie. Die bendes van die goddelose het my beroof, maar ek het U wet nie vergeet nie. Teen middernag sal ek opstaan om U te loof ter wille van U regverdige oordele. Ek is 'n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat U bevele bewaar. Die aarde, HERE, is vol van u goedertierenheid; leer my U insettinge. TEDE. U het goed gehandel aan u kneg, HERE, volgens U woord. Leer my goeie oordeel en kennis, want ek het u gebooie geglo. Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal, maar nou het ek U woord bewaar. Jy is goed en doen goed; leer my U insettinge. Die hoogmoediges het 'n leuen teen my gesmee, maar ek sal U bevele met my hele hart bewaar. Hulle hart is vet soos vet; maar ek het 'n welbehae in U wet. Dit is goed vir my dat ek verdruk is; dat ek U insettinge kan leer. Die wet van u mond is vir my beter as duisende goud en silwer. JOD. U hande het my gemaak en my gevorm; gee my insig, dat ek U gebooie kan leer. Die wat U vrees, sal bly wees as hulle My sien; want ek het op uUwoord gehoop. Ek weet, HERE, dat u oordele reg is, en dat U my in trou verdruk het. Laat tog U goedertierenheid tot my vertroosting wees, volgens U woord aan U kneg. Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe, want U wet is my behae. Laat die hoogmoediges beskaamd staan; want hulle het my sonder oorsaak verkeerd gehandel, maar ek sal U bevele oordink. Laat die wat U vrees, hulle tot My bekeer en die wat U getuienisse ken. Laat my hart gesond wees in U insettinge; dat ek nie skaam nie. CAPH. My siel versmag vir U verlossing, maar ek hoop op U woord. My oë versaag vir U woord deur te sê: Wanneer sal U my troos? Want ek het geword soos 'n bottel in die rook; tog vergeet ek U insettinge nie. Hoeveel is die dae van U kneg? wanneer sal U oordeel aan die wat My vervolg? Die hoogmoediges het vir my kuile gegrawe wat nie volgens U wet is nie. Al U gebooie is getrou: hulle vervolg my onregmatig; help jy my. Hulle het my amper op aarde verteer; maar ek het U bevele nie verlaat nie. Maak my vinnig na U goedertierenheid; so sal ek die getuienis van jou mond bewaar. GELAAM. Vir ewig, o HERE, is U woord vas in die hemel. U trou is van geslag tot geslag: U het die aarde gegrond, en dit bly staan. Hulle bly vandag volgens U verordeninge, want almal is U dienaars. As U wet nie my behae was nie, sou ek dan in my ellende omgekom het. Ek sal U bevele nooit vergeet nie, want daarmee het U my lewend gemaak. Ek is joune, red my; want ek het U bevele gesoek. Die goddelose het gewag dat ek my vernietig, maar ek sal U getuienisse in ag neem. Ek het 'n einde van alle volmaaktheid gesien, maar U gebod is baie wyd. MEM. O, hoe het ek U wet lief! dit is my meditasie die hele dag. U het my deur U gebooie wyser gemaak as my vyande, want hulle is altyd by my. Ek het meer verstand as al my leraars, want U getuienisse is my oordenking. Ek verstaan meer as die oudstes, want ek bewaar U bevele. Ek het my voete van elke verkeerde weg teruggehou, om u woord te bewaar. Ek het nie van U oordele afgewyk nie, want U het my geleer. Hoe soet is U woorde na my smaak! ja, soeter as heuning vir my mond! Deur u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke bedrieglike weg. NUN. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. Ek het gesweer, en ek sal dit volbring, dat ek U regverdige verordeninge sal onderhou. Ek is baie verdruk; maak my lewend, HERE, volgens U woord. Aanvaar tog die vrywillige offers van my mond, o HERE, en leer my U oordele. My siel is altyddeur in my hand, maar ek vergeet U wet nie. Die goddelose het vir my 'n strik gelê, maar ek het nie van U bevele afgedwaal nie. U getuienisse het ek vir ewig as 'n erfdeel geneem, want dit is die vreugde van my hart. Ek het my hart geneig om U insettinge altyd te doen, tot die einde toe.

PSALMS 119:57-112 Die Boodskap (DB)

U is al wat vir my saak maak. Daarom doen ek net wat U vra. Met alles in my pleit ek by U: moenie u rug vir my keer nie. Doen goed aan my soos U belowe het. Ek het goed gaan kyk na my eie lewe, dis een groot deurmekaarspul; toe het ek besluit om dadelik terug te keer na U. Nou doen ek my bes om aan U gehoorsaam te wees. Selfs slegte mense het my laat probeer val, maar hulle kon my nie van u Woord af wegtrek nie. In die middel van die nag staan ek op om te bid, dan loof ek U omdat U so groot en goed is. My vriende is ook mense wat vir U respek het en doen wat U sê. Here, u goedheid is die hele wêreld vol. Leer my om na U te luister. U doen goeie dinge vir my, presies soos U beloof het. Gee my ’n wakker verstand en ’n kop vol kennis oor U, want ek glo al u voorskrifte. Vroeër het ek op verkeerde paaie geloop, maar daardie dae is vir goed verby; nou doen ek net wat U sê. U is die Bron van alles wat goed is, U doen net goeie dinge. Leer my om u Woord te gehoorsaam. Slegte mense sê lelike dinge oor my, maar ek kyk net na U. Ek doen met alles in my wat U vir my sê om te doen. Hulle gee niks vir u wet om nie, maar vir my is dit die lewe. My swaarkry het my geleer om mooi na U te luister. U wet is vir my baie meer werd as ’n myn vol goud. U het my met u eie hande gemaak. Maak my kop nou ook vol met u wysheid sodat ek mooi verstaan wat U vra. As ander gelowiges sien hoe ek aan U vashou, maak dit hulle baie bly. Ek vertrou op wat U sê. As daar een ding is wat ek weet, Here, is dit dat u bevele ’n mens help om reg op te tree. Partykeer stuur U probleme na my toe, net om te sien of ek nog aan U vashou. Vandag het ek u liefde bitter nodig! Help my, soos U belowe het. Kry my asseblief jammer, kom hou my styf vas, dan sal ek weer voluit lewe! Ek stap elke dag op die pad wat U in u wet vir my wys. Laat daardie spul wat so baie van hulleself dink, daar sleg van afkom. Hulle vertel ’n klomp leuens oor my. Gelukkig weet U dis nie waar nie, ek doen net wat U sê. Gee tog dat ander gelowiges wat U dien en doen wat U sê ook by my sal staan. Laat my elke dag net doen wat U sê, dan sal ek nooit moedeloos word nie. Hoe verlang ek nie daarna om u hand op my skouer te voel nie; ek wag heeldag op u troos. Ek sien uit na die dag wat U u belofte waar maak. Elke dag vra ek: “Hoe lank nog voordat U my kom help?” Ek kry baie swaar, dit voel of my lewe in die vuur lê en brand. Tog vergeet ek nie om te doen wat U vra nie. Hoe lank sal hierdie swaarkry nog aanhou? Wanneer klim U ’n slag in onder almal wat dit vir my so moeilik maak? Daardie slegte spul wat nie na U luister nie, probeer my vernietig. Ek is onskuldig; ek doen net wat U sê. Help my, Here, want ek word vervolg sonder dat ek dit verdien. Slegte mense het my amper doodgemaak, maar ek hou aan om na U te luister. U is so goed vir my; daarom vra ek: Laat my lewe sodat ek kan aanhou doen wat U sê. Here, alles wat U sê, gebeur presies net so in die hemel: altyd. U goedheid raak nooit uit die mode nie. U het net ’n woord gesê, toe staan die aarde daar! Alles wat U gemaak het, bestaan tot vandag toe. Alles buig voor U. As u Woord vir my nie soveel blydskap gebring het nie, het ek al lankal moed opgegee. So lank as wat ek leef, sal ek u voorskrifte in my hart bêre, want hulle het my lewe gered. Ek is U s’n, van kop tot tone. Red my, want ek wil elke dag agter U aanstap. Slegte mense staan reg om my dood te maak, maar ek doen net wat U sê. Alles wat mense doen, hoe goed dit ook al is, is vol foute, maar dit wat U in die wet sê, is foutloos; dit hou vir altyd! Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor. Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie. Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het, want u Woord is my hele lewe. Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre. Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê. Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef. Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning. U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens. U Woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap. Ek het U belowe dat ek net sal doen wat U sê, ek sal nooit teruggaan op my beloftes nie. Wat u sê, is reg. Here, dit gaan nou baie sleg met my. Kom help my tog, soos U belowe het. Hoor hoe ek U loof en prys. Leer my wat reg en verkeerd is. My lewe is in gevaar, maar ek vergeet nie wat U in die wet sê nie. Slegte mense wil my laat afdwaal van u pad af, maar ek wyk nie ’n sentimeter daarvan af nie. U voorskrifte is myne, vir altyd, hulle maak my lewe tot oorlopens toe vol met blydskap. Met my hele lewe wil ek net doen wat U sê, elke dag, van nou af tot die einde toe.