HERE, ek behoort aan U!
Ek sê ek wil u woord
gehoorsaam.
Met my hele hart soek ek U.
Wees genadig
soos U beloof het.
Ek het my lewenspad oordink
en het teruggedraai
om volgens u voorwaardes
te lewe.
Ek wil gou maak
en sonder versuim
u gebooie gehoorsaam.
Bande van bose mense
verstrik my,
maar ek vergeet nie u gebooie nie.
Middernag staan ek op
om U te dank
vir u regverdige bepalings.
Ek is ’n vriend vir almal
wat U dien,
vir elkeen wat u bevele
gehoorsaam.
HERE, die aarde is vol
van u trou;
leer my tog u voorskrifte.
U het aan my goedgedoen,
HERE,
net soos U belowe het.
Leer my goeie oordeel
en kennis,
want ek vertrou op u gebooie.
Voor ek gely het,
het ek telkens afgedwaal,
maar nou leef ek
volgens u woord.
U is goed en doen net
wat goed is;
leer my u voorskrifte.
Verwaande mense
het leuens oor my verkondig,
maar ek sal u bevele
met my hele hart uitleef.
Hulle harte is afgestomp
en koud,
maar ek verlustig my
in u gebooie.
Die lyding was goed vir my,
want toe het ek u voorskrifte geleer.
Die gebooie uit u mond
is vir my meer waardevol
as baie goud en silwer.
U hande
het my gemaak, my gevorm.
Gee my tog insig
om u gebooie te verstaan.
U dienaars sal my sien
en bly wees,
want op u woord hoop ek.
Ek weet, HERE,
u bepalings is reg;
op grond van u trou bestraf U my.
Laat u troue liefde
my nou vertroos
soos U aan u dienaar beloof het.
Laat u medelye my oordek
sodat ek kan lewe,
want u gebooie
is my vreugde.
Laat die verwaandes
in skande kom
omdat hulle my vals beskuldig;
maar ek sal u bevele oordink.
Laat u dienaars terugkom
na my toe,
hulle wat u voorskrifte ken.
Mag ek onberispelik wees
in die uitleef van u gebooie;
dan hoef ek nooit
beskaam te wees nie.
Ek verlang na u redding;
ek vertrou op u woord.
Ek ooreis my oë om te sien
wanneer u beloftes
waar word, en vra:
“Wanneer sal U my vertroos?”
Ek het verskrompel
soos ’n wynsak in rook,
maar ek vergeet nie
u voorskrifte nie.
Hoe lank moet u dienaar wag?
Wanneer straf U
my agtervolgers?
Hierdie verwaande mense
wat nie leef
volgens u gebooie nie,
het vir my vanggate gegrawe.
Al u gebooie is betroubaar.
Help my,
want hulle vervolg
my sonder rede.
Hulle het my byna
van die aarde af laat verdwyn,
maar ek het geweier
om af te sien van u bevele.
Op grond van u troue liefde,
spaar tog my lewe
sodat ek kan voortgaan
om u waarskuwings
te gehoorsaam.
U woord, HERE, is vir altyd,
dit staan vas in die hemel.
U trou is vir geslag na geslag,
U het die aarde gevestig,
en dit staan nog vas.
U bepalings
is vandag nog waar,
want al hierdie dinge is u dienaars.
As u gebooie
nie vir my vreugde was nie,
sou ek gesterf het
van ellende.
Ek sal u bevele
nooit vergeet nie,
want daardeur
gee U my die lewe.
Ek behoort aan U;
red my tog!
Want ek vra na u bevele.
Bose mense wag my in
om my dood te maak,
maar ek neem u waarskuwings
in ag.
Selfs volmaaktheid
het sy perke,
maar u gebooie
ken geen grense nie.
Hoe lief het ek u gebooie!
Ek oordink dit die hele dag.
U gebooie gee my meer insig
as wat my vyande het,
want dit is gedurig by my.
Ek het meer insig
as my leermeesters,
want ek oordink
u waarskuwings.
Ek het meer begrip
as ouer mense,
want ek lewe volgens u bevele.
Verkeerde paaie het ek vermy,
sodat ek u woord
kan gehoorsaam.
Ek het nie afgewyk
van u bepalings nie,
want U het my dit geleer.
Hoe aangenaam is u woorde
vir my;
dis soeter as heuning
in my mond.
Deur u bevele kry ek insig;
daarom haat ek
elke valse pad.
U woord is ’n lamp
vir my voete
en ’n lig op my pad.
Ek het reeds belowe,
en ek bevestig:
u regverdige bepalings
sal ek gehoorsaam.
Ek het baie swaargekry,
HERE.
Vernuwe my lewe
volgens u woord.
HERE, aanvaar die offers
van my mond,
en leer my u bepalings.
My lewe
is gedurig in die weegskaal,
maar u gebooie
sal ek nie vergeet nie.
Die goddeloses
stel vir my ’n strik;
tog sal ek van u bevele
nie afdwaal nie.
U verbondsbepalings is my erfdeel
vir altyd;
dit is die vreugde van my hart.
Ek wil leef
volgens u voorskrifte,
vir altyd, tot die einde toe.