U is al wat vir my saak maak. Daarom doen ek net wat U vra.
Met alles in my pleit ek by U: moenie u rug vir my keer nie. Doen goed aan my soos U belowe het.
Ek het goed gaan kyk na my eie lewe, dis een groot deurmekaarspul;
toe het ek besluit om dadelik terug te keer na U.
Nou doen ek my bes om aan U gehoorsaam te wees.
Selfs slegte mense het my laat probeer val,
maar hulle kon my nie van u Woord af wegtrek nie.
In die middel van die nag staan ek op om te bid,
dan loof ek U omdat U so groot en goed is.
My vriende is ook mense wat vir U respek het en doen wat U sê.
Here, u goedheid is die hele wêreld vol.
Leer my om na U te luister.
U doen goeie dinge vir my, presies soos U beloof het.
Gee my ’n wakker verstand en ’n kop vol kennis oor U, want ek glo al u voorskrifte.
Vroeër het ek op verkeerde paaie geloop, maar daardie dae is vir goed verby;
nou doen ek net wat U sê.
U is die Bron van alles wat goed is, U doen net goeie dinge.
Leer my om u Woord te gehoorsaam.
Slegte mense sê lelike dinge oor my, maar ek kyk net na U. Ek doen met alles in my wat U vir my sê om te doen.
Hulle gee niks vir u wet om nie, maar vir my is dit die lewe.
My swaarkry het my geleer om mooi na U te luister.
U wet is vir my baie meer werd as ’n myn vol goud.
U het my met u eie hande gemaak.
Maak my kop nou ook vol met u wysheid sodat ek mooi verstaan wat U vra.
As ander gelowiges sien hoe ek aan U vashou, maak dit hulle baie bly.
Ek vertrou op wat U sê.
As daar een ding is wat ek weet, Here, is dit dat u bevele ’n mens help om reg op te tree.
Partykeer stuur U probleme na my toe, net om te sien of ek nog aan U vashou.
Vandag het ek u liefde bitter nodig!
Help my, soos U belowe het.
Kry my asseblief jammer, kom hou my styf vas, dan sal ek weer voluit lewe!
Ek stap elke dag op die pad wat U in u wet vir my wys.
Laat daardie spul wat so baie van hulleself dink, daar sleg van afkom.
Hulle vertel ’n klomp leuens oor my.
Gelukkig weet U dis nie waar nie, ek doen net wat U sê.
Gee tog dat ander gelowiges wat U dien en doen wat U sê ook by my sal staan.
Laat my elke dag net doen wat U sê, dan sal ek nooit moedeloos word nie.
Hoe verlang ek nie daarna om u hand op my skouer te voel nie;
ek wag heeldag op u troos.
Ek sien uit na die dag wat U u belofte waar maak.
Elke dag vra ek: “Hoe lank nog voordat U my kom help?”
Ek kry baie swaar, dit voel of my lewe in die vuur lê en brand.
Tog vergeet ek nie om te doen wat U vra nie.
Hoe lank sal hierdie swaarkry nog aanhou?
Wanneer klim U ’n slag in onder almal wat dit vir my so moeilik maak?
Daardie slegte spul wat nie na U luister nie, probeer my vernietig.
Ek is onskuldig; ek doen net wat U sê.
Help my, Here, want ek word vervolg sonder dat ek dit verdien.
Slegte mense het my amper doodgemaak, maar ek hou aan om na U te luister.
U is so goed vir my; daarom vra ek:
Laat my lewe sodat ek kan aanhou doen wat U sê.
Here, alles wat U sê, gebeur presies net so in die hemel: altyd.
U goedheid raak nooit uit die mode nie.
U het net ’n woord gesê, toe staan die aarde daar!
Alles wat U gemaak het, bestaan tot vandag toe. Alles buig voor U.
As u Woord vir my nie soveel blydskap gebring het nie, het ek al lankal moed opgegee.
So lank as wat ek leef, sal ek u voorskrifte in my hart bêre,
want hulle het my lewe gered.
Ek is U s’n, van kop tot tone.
Red my, want ek wil elke dag agter U aanstap.
Slegte mense staan reg om my dood te maak, maar ek doen net wat U sê.
Alles wat mense doen, hoe goed dit ook al is, is vol foute,
maar dit wat U in die wet sê, is foutloos; dit hou vir altyd!
Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor.
Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande,
niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie.
Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het,
want u Woord is my hele lewe.
Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre.
Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê.
Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef.
Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning.
U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens.
U Woord wys my presies hoe ek moet leef,
soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap.
Ek het U belowe dat ek net sal doen wat U sê,
ek sal nooit teruggaan op my beloftes nie. Wat u sê, is reg.
Here, dit gaan nou baie sleg met my. Kom help my tog, soos U belowe het.
Hoor hoe ek U loof en prys.
Leer my wat reg en verkeerd is.
My lewe is in gevaar, maar ek vergeet nie wat U in die wet sê nie.
Slegte mense wil my laat afdwaal van u pad af,
maar ek wyk nie ’n sentimeter daarvan af nie.
U voorskrifte is myne, vir altyd,
hulle maak my lewe tot oorlopens toe vol met blydskap.
Met my hele lewe wil ek net doen wat U sê,
elke dag, van nou af tot die einde toe.