PSALMS 119:57-112

PSALMS 119:57-112 NLV

HERE, ek behoort aan U! Ek sê ek wil u woord gehoorsaam. Met my hele hart soek ek U. Wees genadig soos U beloof het. Ek het my lewenspad oordink en het teruggedraai om volgens u voorwaardes te lewe. Ek wil gou maak en sonder versuim u gebooie gehoorsaam. Bande van bose mense verstrik my, maar ek vergeet nie u gebooie nie. Middernag staan ek op om U te dank vir u regverdige bepalings. Ek is ’n vriend vir almal wat U dien, vir elkeen wat u bevele gehoorsaam. HERE, die aarde is vol van u trou; leer my tog u voorskrifte. U het aan my goedgedoen, HERE, net soos U belowe het. Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u gebooie. Voor ek gely het, het ek telkens afgedwaal, maar nou leef ek volgens u woord. U is goed en doen net wat goed is; leer my u voorskrifte. Verwaande mense het leuens oor my verkondig, maar ek sal u bevele met my hele hart uitleef. Hulle harte is afgestomp en koud, maar ek verlustig my in u gebooie. Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer. Die gebooie uit u mond is vir my meer waardevol as baie goud en silwer. U hande het my gemaak, my gevorm. Gee my tog insig om u gebooie te verstaan. U dienaars sal my sien en bly wees, want op u woord hoop ek. Ek weet, HERE, u bepalings is reg; op grond van u trou bestraf U my. Laat u troue liefde my nou vertroos soos U aan u dienaar beloof het. Laat u medelye my oordek sodat ek kan lewe, want u gebooie is my vreugde. Laat die verwaandes in skande kom omdat hulle my vals beskuldig; maar ek sal u bevele oordink. Laat u dienaars terugkom na my toe, hulle wat u voorskrifte ken. Mag ek onberispelik wees in die uitleef van u gebooie; dan hoef ek nooit beskaam te wees nie. Ek verlang na u redding; ek vertrou op u woord. Ek ooreis my oë om te sien wanneer u beloftes waar word, en vra: “Wanneer sal U my vertroos?” Ek het verskrompel soos ’n wynsak in rook, maar ek vergeet nie u voorskrifte nie. Hoe lank moet u dienaar wag? Wanneer straf U my agtervolgers? Hierdie verwaande mense wat nie leef volgens u gebooie nie, het vir my vanggate gegrawe. Al u gebooie is betroubaar. Help my, want hulle vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar ek het geweier om af te sien van u bevele. Op grond van u troue liefde, spaar tog my lewe sodat ek kan voortgaan om u waarskuwings te gehoorsaam. U woord, HERE, is vir altyd, dit staan vas in die hemel. U trou is vir geslag na geslag, U het die aarde gevestig, en dit staan nog vas. U bepalings is vandag nog waar, want al hierdie dinge is u dienaars. As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende. Ek sal u bevele nooit vergeet nie, want daardeur gee U my die lewe. Ek behoort aan U; red my tog! Want ek vra na u bevele. Bose mense wag my in om my dood te maak, maar ek neem u waarskuwings in ag. Selfs volmaaktheid het sy perke, maar u gebooie ken geen grense nie. Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad. U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaargekry, HERE. Vernuwe my lewe volgens u woord. HERE, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe.