PSALMS 119:57-112

PSALMS 119:57-112 AFR53

Die HERE is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar. Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte. Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse. Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou. Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie. Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge. Ek is 'n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou. HERE, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge. U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord. Leer my 'n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie. Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. U is goed en doen goed; leer my u insettinge. Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele. Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet. Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer. Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer. Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek. Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het. Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg. Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging. Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele. Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken. Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie. My siel smag na u heil; op u woord wag ek. My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos? Want ek het geword soos 'n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie. Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers? Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie. Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my! Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie. Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou. Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele. U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan. Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte. As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende. Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak. Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele. Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse. Aan alle volmaaktheid het ek 'n einde gesien, maar u gebod is baie wyd. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer. Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou. Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord! Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge. My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie. Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie. Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart. Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.