Psalms 119

119
א ALEF
1Gelukkig is mense
wie se lewenspad onberispelik is
en wat die wet van die Here volg!
2Gelukkig is hulle
wat hou by sy bepalings,
wat Hom met hulle hele hart soek;
3wat ook nie onreg pleeg nie,
maar net sy paaie volg!
4U het self u opdragte gegee,
sodat mense dit noukeurig sal nakom.
5Ag, was my lewenspaaie maar standvastig,
sodat ek u voorskrifte kon nakom.
6Dan sal ek nie beskaamd staan,
terwyl ek op al u bevele let nie.
7Ek prys U met 'n opregte hart
terwyl ek u regverdige beslissings bestudeer.
8U voorskrifte sal ek nakom;
moet my tog nooit in die steek laat nie.
ב BET
9Hoe sal 'n jongmens sy lewenspad
suiwer hou?
Deur te hou by u woord.
10Met my hele hart soek ek U;
laat my tog nie afdwaal van u bevele nie.
11In my hart koester ek u woord,
sodat ek nie teen U sondig nie.
12U moet geprys word, Here!
Leer my u voorskrifte!
13Met my lippe vertel ek van al
die beslissings van u mond.
14Oor die pad van u bepalings
is ek verheug
soos oor enige rykdom.
15Oor u opdragte wil ek nadink;
ek wil op u paaie let.
16In u voorskrifte vind ek vreugde;
ek sal u woord nie vergeet nie.
ג GIMEL
17Wees goed vir u dienskneg,
dan kan ek lewe en u woord nakom.
18Maak oop my oë,
sodat ek die wonders uit u wet
kan raaksien.
19Ek is 'n •vreemdeling op aarde;
moet u bevele nie vir my verborge hou nie.
20My lewe kwyn die hele tyd weg
van verlange na u beslissings.
21U bestraf vermeteles, die vervloektes,
hulle wat van u bevele afdwaal.
22Verwyder bespotting
en minagting van my,
want by u bepalings hou ek.
23Selfs al sit leiers met mekaar
en praat oor my –
u dienskneg sal oor u voorskrifte
bly nadink.
24Nog steeds is u bepalings
my grootste vreugde;
hulle is my raadgewers.
ד DALET
25My lewe kleef aan die stof;
maak my weer lewend
volgens u woord.
26Van my lewenspaaie het ek vertel,
en U het my geantwoord;
leer my u voorskrifte.
27Die pad van u opdragte –
laat my dit verstaan,
sodat ek oor u wonders kan nadink.
28My lewe vloei weg van verdriet;
rig my op volgens u woord.
29Die pad van bedrog –
neem dit van my weg;
en u wet –
gee dit genadiglik vir my.
30Die pad van eerlikheid het ek gekies;
u beslissings hou ek voor oë.
31Ek hou aan u bepalings vas;
Here, laat my nie beskaamd staan nie.
32Die pad van u bevele
volg ek geesdriftig,
want U verruim my insig.
ה HE
33 Here, onderrig my in die pad
van u voorskrifte,
sodat ek enduit daarby kan hou.
34Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou,
dit met my hele hart kan nakom.
35Begelei my op die pad van u bevele,
want daarin vind ek vreugde.
36Laat my hart na u bepalings neig,
en nie na winsbejag nie.
37Wend my oë daarvan af
om na nuttelose dinge te staar;
hou my lewend op u paaie.
38Doen u woord gestand aan u dienskneg –
u woord wat ontsag wek vir U.
39Neem die bespotting
wat ek vrees van my weg,
want u beslissings is goed.
40Kyk, ek verlang na u opdragte;
hou my lewend deur u •geregtigheid.
ו WAW
41Laat u troue liefde my deel word, Here,
u verlossing volgens u woord,
42sodat ek my spotter kan antwoord;
want ek vertrou op u woord.
43Moet tog nie u betroubare woord
geheel en al uit my mond wegneem nie,
want ek vestig my hoop op u beslissings.
44Ek wil u wet voortdurend nakom,
vir altyd en ewig.
45Ek wil in hierdie wye ruimte
voortbeweeg,
want u opdragte ondersoek ek.
46 Ek sal oor u bepalings
voor konings praat
sonder om my te skaam.
47Ek vind vreugde in u bevele
wat ek liefhet;
48ek reik uit na u opdragte
wat ek liefhet;
ek dink na oor u voorskrifte.
ז ZAJIN
49Dink aan u woord aan u dienskneg
waarmee U aan my hoop gegee het.
50Dit is my vertroosting in my ellende,
dat u belofte my lewend hou.
51Vermeteles het my
tot die uiterste toe gespot,
maar van u wet het ek
nie weggedraai nie.
52Ek het u beslissings onthou,
van lank gelede af, Here,
en ek was getroos.
53Woede het my beetgepak
oor goddeloses –
hulle wat u wet verlaat.
54Maar u voorskrifte
was vir my liedere
in 'n plek waar ek
'n vreemdeling was.
55Ek het u Naam
in die nag onthou, Here,
en ek het u wet nagekom.
56Dit het deel geword van my –
dat ek by u opdragte hou.
ח GET
57U, Here, is my deel,
ek het onderneem om u woorde
na te kom.
58Ek het met my hele hart
u guns gesoek:
Wees my genadig volgens u belofte.
59Ek het my paaie bedink
en my voete teruggebring
na u bepalings.
60Ek het my gehaas en nie getalm
om u bevele na te kom nie.
61Die toue van goddeloses
het my omstrengel,
maar u wet het ek nie vergeet nie.
62In die middel van die nag
staan ek op om U te prys
oor u regverdige beslissings.
63Ek is 'n vriend van almal
wat vir U ontsag het,
en u opdragte nakom.
64 Here, u troue liefde vul die aarde;
leer my u voorskrifte.
ט TET
65U het goed gedoen aan u dienskneg,
Here, volgens u woord.
66Leer my goeie oordeel en kennis,
want ek vertrou op u bevele.
67Voordat ek swaar beproef is,
was ek aan die dwaal,
maar nou kom ek u woord na.
68U is goed en doen goed;
leer my u voorskrifte.
69Vermeteles het my
met leuens beswadder;
maar ek, met my hele hart
hou ek by u opdragte.
70Hulle harte is so gevoelloos
soos vet,
maar ek vind vreugde in u wet.
71Dit is goed vir my
dat ek verneder was,
sodat ek u voorskrifte kon leer.
72Die onderrig uit u mond
is vir my beter as duisende
stukke goud en silwer.
י JOD
73U hande het my gemaak,
my gevestig;
maak my verstandig,
ek wil u bevele leer.
74Hulle wat vir U ontsag het,
sien my en is bly,
want op u woord wag ek.
75Ek weet, Here,
dat u beslissings regverdig is,
en dat U my in getrouheid
verneder het.
76Laat u troue liefde tog vir my
tot troos wees
volgens u woord aan u dienskneg.
77Laat u ontferming my deel word,
sodat ek kan lewe;
want u wet is my vreugde.
78Laat vermeteles beskaamd staan,
want sonder rede veronreg hulle my;
maar ek sal bly nadink oor u opdragte.
79Laat hulle wat vir U ontsag het,
na my terugkeer,
ja, hulle wat u bepalings ken.
80Laat my hart onberispelik
aan u voorskrifte hou,
sodat ek nie beskaamd staan nie.
כ KAF
81My •siel smag na u verlossing;
op u woord wag ek.
82My oë smag na u belofte en vra:
“Wanneer sal U my troos?”
83Want ek het geword
soos 'n stuk vel vol rook,
maar u voorskrifte
het ek nie vergeet nie.
84Hoeveel dae is daar nog
vir u dienskneg?
Wanneer gaan u die oordeel voltrek
oor my vervolgers?
85Vermeteles het vir my
vangkuile gegrawe,
hulle wat nie volgens u wet
optree nie.
86Al u bevele is betroubaar,
maar hulle vervolg my sonder rede.
Help my!
87Byna het hulle my vernietig
hier op aarde,
maar ek, ek het u opdragte
nie verontagsaam nie.
88Maak my lewend
in ooreenstemming met
u troue liefde,
sodat ek die bepalings
uit u mond kan nakom.
ל LAMED
89Vir ewig, Here,
staan u woord vas in die hemel.
90Van geslag tot geslag duur u trou;
U het die aarde gevestig
en dit hou stand.
91Volgens u beslissings
hou dit vandag nog stand,
want alles is u diensknegte.
92As u wet nie my vreugde was nie,
sou ek in my ellende
vergaan het.
93Tot in ewigheid sal ek
u opdragte nie vergeet nie,
want daardeur het U my lewend gemaak.
94Aan U behoort ek; verlos my,
want na u opdragte streef ek.
95Goddeloses wag my in
om my te vernietig;
op u bepalings slaan ek ag.
96Ek het gesien
aan alle volmaaktheid
kom daar 'n einde,
maar u gebod is besonder ruim.
מ MEM
97Hoe lief het ek u wet –
die hele dag dink ek daaroor na.
98U gebod maak my wyser as my vyande,
want dit is altyd daar vir my.
99Ek is verstandiger as al my leermeesters,
want u bepalings is vir my
stof tot nadenke.
100Ek het meer insig as oumense,
want by u opdragte hou ek.
101Van elke slegte pad
het ek my voete weerhou
sodat ek u woord kon onderhou.
102Van u beslissings
het ek nie afgewyk nie,
want dit is U wat my onderrig.
103Hoe strelend is u woord vir my verhemelte,
meer as heuning vir my mond.
104Uit u opdragte kry ek insig;
daarom haat ek elke bedrieglike pad.
נ NUN
105U woord is 'n lamp vir my voet
en 'n lig vir my lewenspad.
106Ek het 'n eed afgelê
– en daarby gehou –
om u regverdige beslissings na te kom.
107Ek is baie terneergedruk;
Here, maak my lewend
volgens u woord!
108Laat die vrywillige offers van my mond
tog vir U aanvaarbaar wees, Here,
en leer my u beslissings.
109My lewe is voortdurend in my hande;
maar u wet vergeet ek nie.
110Goddeloses het vir my 'n net gespan,
maar van u opdragte
het ek nie afgewyk nie.
111Ek het u bepalings as blywende
erfporsie ontvang;
ja, dit is die vreugde van my hart.
112Ek rig my hart daarop
om u voorskrifte uit te voer –
vir altyd, tot die einde toe.
ס SAMEK
113Dubbelhartige mense haat ek,
maar u wet het ek lief.
114My skuilplek en my skild is U;
op u woord vestig ek my hoop.
115Gaan weg van my,
julle kwaaddoeners,
sodat ek by die gebooie
van my God kan hou.
116Ondersteun my, volgens u woord,
sodat ek kan lewe;
laat my nie beskaamd staan
oor my hoop nie.
117Onderskraag my,
sodat ek verlos kan word;
ek wil voortdurend
aan u voorskrifte aandag gee.
118U verwerp almal wat dwaal,
weg van u voorskrifte af;
want hulle bedrog is misleidend.
119Soos metaalskuim verwyder U
al die goddeloses van die aarde;
daarom het ek u bepalings lief.
120My lyf bewe omdat U
vrees inboesem;
ja, vir u beslissings is ek vol ontsag.
ע AJIN
121Ek doen wat billik en reg is;
moet my nie aan my verdrukkers
oorlaat nie.
122Waarborg die goeie
vir u dienskneg;
vermeteles moet my nie verdruk nie.
123My oë smag na u verlossing,
na u belofte van •geregtigheid.
124Handel met u dienskneg
volgens u troue liefde,
en leer my u voorskrifte.
125Ek is u dienskneg;
gee aan my insig
sodat ek u bepalings kan ken.
126Dit is tyd vir die Here
om op te tree –
hulle maak u wet kragteloos.
127Daarom het ek u bevele lief,
ja, meer as goud, as suiwer goud.
128Daarom volg ek alle opdragte
oor alles;
elke pad van bedrog haat ek.
פ PE
129U bepalings is wonderlik;
daarom hou ek daarby.
130As u woorde oopgaan, gee dit lig;
dit gee insig aan onkundiges.
131Met 'n oop mond hyg ek,
want ek hunker na u gebooie.
132Draai na my en wees my genadig,
soos U gewoonlik maak
met hulle wat u Naam liefhet.
133Maak my treë ferm met u woord
en laat geen onreg oor my heers nie.
134Bevry my van onderdrukking
deur mense,
sodat ek u opdragte kan nakom.
135Laat die lig van u aangesig
oor u dienskneg skyn,
en leer my u voorskrifte.
136Strome water vloei uit my oë,
omdat mense nie u wet nakom nie.
צ TSADE
137 Regverdig is U, Here,
en u beslissings is reg.
138U het in •geregtigheid
u bepalings uitgevaardig,
en in goeie trou.
139My ywer verteer my
omdat my teenstanders
u woorde vergeet.
140U woord is volkome gelouter
en u dienskneg het dit lief.
141Ek is klein en word geminag,
maar u opdragte vergeet ek nie.
142U geregtigheid is regverdig
vir ewig
en u wet is betroubaar.
143Benoudheid en angs
het my oorval,
maar u gebooie is my vreugde.
144U bepalings is regverdig vir ewig;
gee my insig, sodat ek kan lewe.
ק KOF
145Ek roep met my hele hart:
“Antwoord my, Here,
u voorskrifte wil ek onderhou!”
146Ek roep na U: “Verlos my
sodat ek u bepalings kan nakom!”
147Voor die oggendskemer
roep ek al om hulp;
op u woorde wag ek.
148Met oop oë gaan ek
elke nagwaak in,
sodat ek oor u woord kan nadink.
149Luister tog in u troue liefde
na my stem,
Here, hou my lewend
volgens u beslissing.
150Mense wat slinkse planne
najaag, kom nader;
hulle bly ver van u wet.
151Maar U, Here, is naby,
en al u gebooie is betroubaar.
152Uit u bepalings weet ek lank reeds
dat U dit vir ewig gevestig het.
ר RESJ
153Sien tog my ellende raak
en red my,
want u wet vergeet ek nie.
154Behartig my regsaak
en verlos my;
hou my lewend op grond van
u belofte.
155Verlossing bly ver van goddeloses,
want hulle streef nie
u voorskrifte na nie.
156U ontferming is groot, Here;
hou my lewend volgens u beslissings.
157My agtervolgers en teenstanders
is baie,
maar van u bepalings
wyk ek nie af nie.
158Ek het ontroues gesien
en dit het my met weersin vervul
dat hulle u woord nie onderhou nie.
159Sien tog raak
dat ek u opdragte liefhet,
Here, maak my lewend
in ooreenstemming met
u troue liefde.
160Die wese van u woord
is betroubaarheid,
en elkeen van u regverdige
beslissings is vir ewig.
שׂ SIN שׁ SJIN
161Leiers vervolg my sonder rede,
maar net vir u woord het my hart
'n heilige vrees.
162Ek verheug my oor u woord,
soos iemand wat 'n groot buit
gevind het.
163Ek haat en verafsku valsheid,
maar u wet het ek lief.
164Sewe keer per dag loof ek U
oor u regverdige beslissings.
165 Groot vrede is daar vir hulle
wat u wet liefhet;
vir hulle is daar
geen struikelblokke nie.
166Ek vestig my hoop
op u verlossing, Here,
en ek voer u bevele uit.
167Ek kom u bepalings na;
ja, ek het dit baie lief.
168Ek kom u opdragte
en u bepalings na,
want al my paaie lê oop voor U.
ת TAW
169Laat my klaagroep voor U kom, Here;
gee my insig ooreenkomstig u woord.
170Laat my smeekgebed U bereik,
red my volgens u belofte.
171My lippe laat lofprysing uitstroom,
want U leer my u voorskrifte.
172My tong besing u woord,
want al u gebooie is regverdig.
173Laat u hand my te hulp kom,
want ek verkies u opdragte.
174Ek verlang na u verlossing, Here;
u wet is my vreugde.
175Hou my lewend
sodat ek U kan loof
en laat u beslissings my help.
176Ek dwaal rond
soos 'n verlore skaap;
soek tog u dienskneg.
U gebooie vergeet ek immers nie.

Tans Gekies:

Psalms 119: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid