Psalms 119:57-112

Psalms 119:57-112 ABA

Here, ek het net vir U, ek het belowe dat ek sal doen wat U gesê het. Ek soebat en vra vir U met my hele hart, U moet genadig wees vir my, soos U belowe het. Wanneer ek dink aan hoe ek lewe, dan dink ek altyd weer aan wat U gesê het. Ek is haastig, ek wag nie, ek wil gehoorsaam wees aan u gebooie. Wanneer mense wat verkeerd doen, vir my in hulle vangnet wil vang, dan vergeet ek nie wat U vir ons geleer het nie. Ek staan in die middel van die nag op om vir U dankie te sê, want alles wat U besluit het, is reg. Ek is 'n vriend van al die mense wat vir U dien en wat doen wat U beveel. Here, U doen wat U belowe het, oral op die aarde, U moet vir my leer wat u wette sê. Here, U het goed gedoen aan my, u dienaar, dit is soos U gesê het. U moet vir my leer om te weet wat is reg en wat is verkeerd, want ek glo dat u gebooie reg is. Voordat dit met my so sleg gegaan het, het ek verkeerd gelewe, maar nou doen ek wat U sê. U is goed en U doen goed, U moet vir my leer wat u wette sê. Hoogmoedige mense lieg en hulle praat sleg van my, maar ek doen wat U beveel met my hele hart. Hulle wil nie verstaan wat U vir ons sê nie, maar ek geniet wat U vir ons leer. Dit was vir my goed dat U my laat swaarkry het, want so het ek geleer wat u wette sê. Die dinge wat U vir my leer, is beter as duisende stukke goud en silwer. Ú het my gemaak en Ú het my laat lewe, U moet vir my leer sodat ek u gebooie kan ken. Die mense wat vir U dien, sal na my kyk en hulle sal bly wees, want hulle sal sien ek glo dat U sal doen wat U gesê het. Here, ek weet dat U reg besluit, en dat U my laat swaarkry het omdat U gesê het U sal dit doen. U moet doen wat U belowe het, dit sal dinge beter maak vir my. U het dit vir my gesê, vir my, u dienaar. U moet jammer wees vir my sodat ek kan lewe, want ek geniet wat U vir my leer. U moet die hoogmoedige mense laat verloor, want hulle het vir my gelieg en hulle het my verlei. Ék wil dink aan wat U beveel het. U moet die mense wat vir U dien, na my toe laat kom, sodat hulle kan leer wat U gesê het. Ek wil heeltemal gehoorsaam wees aan u wette, sodat niemand my kan verneder nie. Ek wag en verlang daarna dat U my sal red, ek is seker dat U sal doen wat U gesê het. My oë is moeg, want ek hou aan om te kyk wanneer U dit weer goed sal laat gaan met my soos U belowe het. Ja, ek het geword soos 'n velsak wat in die rook hang, maar ek vergeet nie u wette nie. Ek is u dienaar. Hoe lank sal ek nog lewe? Wanneer straf U die mense wat my volg en jaag? Die hoogmoedige mense het gate gegrawe sodat ek daarin moet val, húlle is die mense wat nie doen wat U vir ons geleer het nie. Al u gebooie staan vas, dit verander nooit. Ek het niks verkeerd gedoen nie, maar mense volg my en jaag my. U moet my help. Ek het gedoen wat U beveel het, maar hulle het my amper doodgemaak. U moet my laat aanhou lewe, soos U belowe het, sodat ek kan doen wat U sê. Here, die dinge wat U vir ons gesê het, is altyd waar, dit staan vas in die hemel, dit verander nooit. U bly dieselfde vir elke geslag. U het die aarde gesit waar dit is, en dit is nog altyd daar. Alles is vandag nog daar, soos U besluit het, want almal doen wat U sê. Ek het geniet wat U vir ons leer. As dit nie so was nie, dan het ek gesterf, want ek kry swaar. Ek sal nooit vergeet wat U beveel het nie, want U het my so laat lewe. Ek behoort aan U, en U moet my red, want ek probeer om te doen wat U beveel. Die mense wat verkeerd doen, is gereed om my dood te maak, maar ek dink net aan wat U gesê het. Ek het gesien dat niks vir altyd aanhou nie, alles het 'n einde, maar u gebooie is oral en altyd daar. Ek is baie lief vir die dinge wat U vir my leer, ek dink die hele dag daaroor. U gebooie gee vir my wysheid, meer wysheid as wat my vyande het, want ek onthou altyd u gebooie. Ek is verstandiger as almal wat vir my geleer het, want ek dink aan wat U gesê het. Ek is slimmer as mense wat ouer is as ek, want ek doen wat U beveel het. Ek doen niks wat verkeerd is nie, ek wil doen wat U gesê het. Ek hou aan om te doen wat U besluit, want U self leer vir my. Dit is lekker om te praat oor die dinge wat U belowe het, dit is lekkerder as heuning. Ek verstaan wat U beveel het, daarom haat ek alles wat vals is. Die dinge wat U vir ons gesê het, is vir my soos 'n lamp wanneer ek in die donker loop, dit wys vir my hoe ek moet lewe. Ek het belowe, en ek sal dit doen: Ek sal doen wat U besluit, want U besluit reg. Dit gaan baie baie sleg met my, U moet my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Here, die dinge wat ek vir U sê, is offers wat ek graag vir U bring. U moet dit asseblief aanvaar en U moet vir my leer om te verstaan wat U besluit. Daar is altyd mense wat my wil doodmaak, maar ek vergeet nie wat U vir ons geleer het nie. Die mense wat verkeerd doen, wil my vang soos 'n mens voëls vang in 'n vangnet, maar ek hou aan om te doen wat U beveel. Ek wil altyd onthou wat U sê, want dit maak my baie bly. Ek het besluit om altyd te doen wat u wette sê, so lank soos ek lewe.