YouVersion Logo
Search Icon

LydenstydSample

Lydenstyd

DAY 42 OF 43

Paassondag

Lees: Johannes 20:1-18; 1 Korintiërs 15:3-5

SOAP : 1 Korintiërs 15:3-5

"Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf."

Oordenking

In 1 Korintiërs 15:3-5 is ’n perfekte samevatting van die werk wat Christus vir ons gedoen het. Dit herinner ons aan die fondament van ons geloof: Christus het vir ons sondes gesterf, soos die Skrif voorspel het. Hy is begrawe, wat vir die wêreld gewys het dat Hy waarlik dood was. Op die derde dag is Hy opgewek. Uiteindelik het Hy aan Petrus verskyn en daarna aan die res van die dissipels.

Al het Jesus sy werk aan die kruis voltooi, was sy opstanding God se amptelike seël van goedkeuring vir sy lewe en dood. Dit was die bewys dat Jesus is wie Hy beweer het om te wees en dat sy versoeningsoffer deur God aanvaar is. Vir sy volgelinge om hieroor absoluut seker te wees, het Christus, voordat Hy na die hemel opgevaar het, nie net aan sy dissipels verskyn nie, maar aan baie ander mense. God wou hê ons moet weet dat Jesus tot die lewe opgewek is — en as gevolg hiervan sou alles anders wees.

Ons sondes het veroorsaak dat ons vyande van God was. Ons het vir onsself gelewe en Hom geïgnoreer, in plaas daarvan om God met ons hele hart lief te hê. Deur sy liggaam aan die dood oor te gee, het Christus alles verander. As gevolg van Christus se dood is ons met God versoen. Ons word aan Hom voorgestel as heilig, sonder gebrek en onberispelik.

Jesus is opgewek tot 'n nuwe lewe en gee nou dieselfde lewe aan diegene wat in Hom is. Christus het nie net al ons sondes verwyder nie, maar Hy gee ons ’n nuwe geboorte met nuwe begeertes en ’n ware liefde vir God. Hy gee ons ’n nuwe hart en plaas sy Heilige Gees in ons. As ons vir Christus lewe, bly ons standvastig, en hou ons vas aan die hoop van die evangelie. Ons is dienaars van Christus, wat ons oorwinning en verlossing in Christus aan die wêreld verkondig. Ons kan rus in die waarheid dat die werk van ons verlossing voltooi is. Ons Verlosser leef en Hy gaan weer kom.

Day 41Day 43

About this Plan

Lydenstyd

Lydenstyd is 'n tydperk van leegmaak, prysgee, skoonmaak en selfs sterf. Lydenstyd is 'n tydperk waartydens ons droefheid uitspreek oor Christus se dood en die rede vir sy dood: ons sonde.

More