LydenstydSample
Goeie Vrydag
Lees: Johannes 18:1-19:42
SOAP : Johannes 19:30
"Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: 'Dit is volbring!' Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas."
Oordenking
Het jy al ooit gewonder hoekom ons die Vrydag voor Paasfees, Goeie Vrydag noem? Wanneer ons nadink oor die gebeure van daardie dag, was dit die donkerste, aakligste gebeurtenisse in die geskiedenis. Hoe kan ons dit goed noem?
Jesus was en is die enigste Persoon wat ooit bestaan het wat sonder sonde was. Hy het nooit ’n onheilige gedagte gehad nie, nooit ’n onvriendelike woord geuiter nie, nooit met selfsugtige bedoelings opgetree nie. Hy het nooit gejok nie, nooit bedrieg nie, nooit gesteel nie, niemand vermoor nie, nooit begeer nie. Tog is Hy gruwelik behandel, onregverdig skuldig bevind en wreed vermoor. Vandag onthou ons hierdie gebeure op ’n dag wat ons Goeie Vrydag noem.
Tog was dit 'n goeie dag vir ons, want Jesus se doel was om mens te word en om te sterf. Hy het volmaak gelewe en nooit gesondig nie, sodat Hy ’n plaasvervanger kon wees vir die straf wat ons almal verdien. Hy het die skuld, die straf en die toorn van God namens ons op Hom geneem. Hy het gely en gesterf sodat ons nooit die toorn van God hoef te ervaar as ons ons geloof in Hom plaas nie.
Jesus se laaste woorde aan die kruis wys wie Hy is. Jesus se lewe is nie van Hom weggeneem nie; Hy het dit gewillig prysgegee. Hy is nie tot onderwerping gedwing of vermoor nie. Jesus het toegelaat dat Hy gearresteer, verhoor, gemartel en gekruisig word om sy doel te vervul: om te sterf sodat ons die ewige lewe saam met Hom kan hê.
Jesus het sy werk voltooi. Hy het die Skrif vervul en Homself aan die wêreld gewys. Hy is die ware Koning. Hy is die Een wat aan ons deur sy dood die lewe bied. Deur sy genade neem Hy ons sondes weg en gee ons sy regverdigheid. Dit is voorwaar goeie nuus!
Scripture
About this Plan
Lydenstyd is 'n tydperk van leegmaak, prysgee, skoonmaak en selfs sterf. Lydenstyd is 'n tydperk waartydens ons droefheid uitspreek oor Christus se dood en die rede vir sy dood: ons sonde.
More