Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 30: God gee aan ons ʼn Lam
"Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" — Johannes die Doper (Johannes 1:29).
Paasfees was ʼn belangrike fees vir die Jode en kry die naam van ʼn Hebreeuse woord “Pesach”, wat “Passover” of “verbygaan” beteken. Dit verwys na die nag toe die doodsengel by die huise van Israel verbygegaan het in die tiende plaag, terwyl die eersgeborenes van die Egiptenare gesterf het.
Voor hierdie laaste plaag Egipte getref het, het God elke gesin beveel om ʼn lam sonder liggaamsgebrek te slag en die bloed van die lam aan die deurkosyne te smeer. Die huise met bloed aan hulle kosyne sou nie die dood in daardie nag sien nie, maar die huise met geen bloed sou getref word.
In dieselfde tyd het die Here beveel dat Israel elke jaar die fees moet vier, sodat hulle altyd kan onthou hoe die Here hulle uit Egipte verlos het. Hierdie week was ʼn bedrywige tyd vir alle Jode en daar was groot afwagting. Op Palmsondag word die paaslam uitgesoek wat op die Donderdag van die Heilige week geslag word.
Daar moes voorbereidings getref word vir die Paasmaaltyd. Die fees van die ongesuurde brode word dan ook gevier. Hierdie week was tradisioneel ʼn tyd van toewyding aan God. Min mense in Jerusalem het die Saterdag voor die week wat Jesus gekruisig sou word, werklik besef dat die ware Paaslam geslag sou word as versoening vir die hele wêreld se sonde en dat hulle bevoorregte toeskouers van die grootste skouspel op die aarde se geskiedenis sou word.
Gedurende Paasfees was daar ook streng reëls. Alle Jode moes binne die grense van die stad bly en die stad was dus vol mense om die Paasfees in Jerusalem te vier. Dink net vir ʼn oomblik dat God in die agtergrond werk om die heil van mense te verseker.
God werk ter wille van ons. Ook aan ons word nou ʼn taak gegee van voorbereiding, sodat die ware betekenis van Paasfees deel van ons lewe kan raak en ons lewens kan transformeer.
Is jy gereed vir Paastyd? Ons moet gereed maak deur ons harte en gedagtes voor te berei, sodat die effek van Jesus se offer, wat ons in die tyd oordink, deel van ons lewens kan word.
Lees die volgende Skrifgedeelte oor die Lam van God wat aan die einde van die wêreld se geskiedenis weer sal verskyn en skryf neer wat dit vir jou lewe beteken.
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More