YouVersion Logo
Search Icon

Ontdek Die Grootste GewerSample

Ontdek Die Grootste Gewer

DAY 35 OF 40

Dag 35: God gee aan ons die vyfde kruiswoord

"Lyding stel ons voor ʼn uitdaging: om die doel van ons lewens te vind wat selfs die ergste situasie die moeite werd maak" — Viktor E. Frankl.

Jesus se vyfde woord aan die kruis is een van fisieke lyding. Jesus, al was Hy God self, het die mees angswekkende fisieke lyding beleef. Een van die kenmerkende Messiaanse Psalms, wat deur Dawid geskryf is wat Jesus se lyding op die kruis saamvat, is Psalm 69.

Die Psalm begin met die woorde: “Red my, o God! Die vloedwaters is reeds tot by my keel. Dieper en dieper sink ek in modder, met geen plek om te staan nie. In diep waters het ek beland, en die stroom oorweldig my. Ek is uitgeput van roep om hulp. My keel is hees en my oë dof, terwyl ek wag dat God my help” (verse 2-4 NLV).

Hy verklaar dat hy omring is met vyande, hy verduur skande en veragting, is verwerp, word beledig en is beskinder. Hy bid tot God om hom te red en vra dat God nie sy gesig van hom af sal wegdraai nie wat in Jesus se geval moes gebeur weens die Heiligheid van God.

Een van die treffende verse in die Psalm wat verseker verwys na die vyfde kruiswoord is vers 22 (NLV): “... hulle gee asyn om my dors te les”. Voor die kruisiging het die soldate vir Hom asyn, met gal (mirre) gemeng wat medisinale kwaliteite gehad het, gegee om te drink; toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie.

Hy het nou aan die kruis ure later gehang, uitgeput weens die fisieke stres asook die geestelike uitputting wat sy tol die dag geëis het. Jesus sê toe: “Ek het dors!” (Johannes 19:28b AFR53). Die soldate het dadelik gereageer en ʼn spons met asyn gevul en op ʼn hisopstingel gesit en aan sy mond gebring en so het die profetiese woord in vervulling gegaan.

Wanneer ons na die kruiswoord luister sien ons in die eerste plek die menslikheid van Christus. Hy was dors want Hy was volledig mens. Daar is egter ʼn ander soort dors wat die geestelike lyding verlig wanneer ons van die geestelike water gedrink het.

Jesus het self gesê: “Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want Hy sal hulle hartsverlange bevredig” (Matteus 5:6 NLV) en later: “Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ʼn fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel” (Johannes 4:14 NLV).

Hierdie uitspraak van Jesus herinner ons daaraan dat Jesus nie net fisieke dors ervaar het nie, maar ook die geestelike dors van ʼn mens demonstreer. Soms is mense so soekend na ʼn manier om hierdie leë plek of dors binne hulle te vul, dat hulle die eerste uitweg wat die wêreld bied, aangryp.

Christus het aan die kruis gehang sodat jy nie hoef dors te voel nie. Kom word gevul met hierdie lewende water wat net Christus jou kan bied.

Lees hierdie woorde van Dawid in nog ʼn Messiaanse Psalm en skryf jou gedagtes neer.

Day 34Day 36

About this Plan

Ontdek Die Grootste Gewer

Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.

More