Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 36: God gee aan ons die sesde kruiswoord
In die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus die wenstreep oorsteek met die woorde “Dit is volbring” (Johannes 19:30).
Jesus het gestand gedoen aan sy belofte om die wil van die Vader te vervul. Hiermee verklaar Jesus dat Hy, sy missie voltooi het om verlossing te bring. Hierdie kruiswoord is ʼn triomfantelike afsluiting van die offer van Christus, wat vir die mens die weg na versoening met God oopmaak.
Baie mense begin dinge, maar maak selde daarmee klaar. Jesus het die taak vervul wat God aan Hom opgelê het. Hierdie kruiswoord was dan ʼn woord gespreek tot die Vader met betrekking tot die prys wat Hy betaal het in pas met Jesaja se profesie: “Maar dit was die HERE se wil om hom te vermorsel en te laat ly. Al het die HERE sy lewe ʼn skuldoffer gemaak, sal hy ʼn groot nageslag kry en nog lank lewe ...” (Jesaja 53:10 NLV).
Wat beteken die sesde kruiswoord vir ons?
Jesus word ʼn voorbeeld vir ons om ons take met ons bestemmingsdoel te verrig. Net soos Jesus sy missie volbring het, kan ons in ons lewe en werke volhard om ʼn positiewe impak op ons gesinne, vriende, kollegas en gemeenskappe te maak.
Daar is ook ʼn geestelike dimensie tot hierdie kruiswoord vir ons persoonlike geloofslewe. Uiteindelik is daar meer in die lewe as net die fisieke, en dit moedig ons aan om met geloof en deursettingsvermoë voort te gaan met die wete dat ons lewe ʼn dieper betekenis en doel het.
Die kruiswoord bly ʼn bron van inspirasie vir gelowiges wat daarna streef om ʼn vervulde en betekenisvolle lewe te lei. Dit roep ons op tot daadwerklike betrokkenheid, integriteit en geloof in die aangesig van uitdagings.
Hierdie woorde bly ʼn tydlose herinnering aan die voltooiing van die grootste werk van verlossing, wat ook ʼn bron van leiding en krag vir ons daaglikse lewens is. Hy het reeds al ons sonde finaal afbetaal. ʼn Oomblik vir Jesus beteken ewigheid vir ons. Ons aanbid Hom, want Hy het klaar vir ons verlossing gegee.
Lees hierdie woorde van Jesus en skryf jou gedagtes neer.
Scripture
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More