YouVersion Logo
Search Icon

Ontdek Die Grootste GewerSample

Ontdek Die Grootste Gewer

DAY 34 OF 40

Dag 34: God gee aan ons die vierde kruiswoord

"Slegs in die kruis van Christus sal ons krag ontvang wanneer ons swak is. Ons sal hoop ervaar wanneer ons situasie hopeloos is. Slegs in die kruis is daar vrede vir ons ontstelde harte" — Michael Youssef.

In Jesus se vierde kruiswoord hoor ons die bekende woorde: “'Eli, Eli, lemá sabagtani?' Dit is: My God, my God waarom het U My verlaat?” (Matteus 27:46).

Ons kan nie die vierde kruiswoord verstaan as ons nie die karakter van God in terme van sy heiligheid en die verhouding in die Drie-eenheid verstaan nie.

God is in die eerste plek oneindig heilig. Die eienskap plaas God verhewe bo die skepping. Regdeur die Bybel sien ons hoe mense op die heiligheid van God reageer. Dit is die Heiligheid van God wat ʼn afstand teenoor sondaars veroorsaak.

Jesus as die tweede persoon van die goddelike Drie-eenheid is ook volkome Heilig en het in sy aardse lewe heilig geleef en was sonder enige oortreding. Jesus moes in ons plek vir ons sondeskuld sterf.

Hy het in die oomblik alles wat boos, sondig en verskriklik is, ervaar sodat ons vergewe, verskoon en vrygespreek kan word. Hy het letterlik Homself verloën om die straf vir alles wat, sleg, boos en afskuwelik is, op Homself te neem.

Daar bestaan in die tweede plek van die ewigheid af ʼn intieme verhouding tussen die Vader en die Seun. Die Vader het in die oomblik wat Jesus die sonde van die wêreld op Homself geneem het, die onwaarskynlikste en onmoontlike ding gedoen om sy aangesig weg te draai van Jesus af, wat die drie ure donkerte op die aarde veroorsaak het.

Jesus het dit alles ervaar sodat jy deur God aanvaar kan word. Hierdie kruiswoord weerspieël die menslikheid van Jesus, wat duisternis ervaar het terwyl Hy die sonde van die wêreld dra. Dit herinner ons daaraan dat Hy die straf ontvang het wat ons verdien het. Jy kan vandag vry wees omdat Hy die prys betaal het. Ons moet in verwondering staan oor hoe ver God sal gaan om ons lewens met Hom te versoen!

Lees die volgende woorde in Romeine en lys die voordele wat na jou toe gekom het weens Jesus se offer aan die kruis.

Day 33Day 35

About this Plan

Ontdek Die Grootste Gewer

Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.

More