Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 29: God gee lig
"Die kosbaarste lig is die een wat in jou donkerste uur skyn!" — Mehmet Ildan.
Nadat God lig in die wêreld in laat skyn het, het Hy verklaar dat die lig goed is en het ook dadelik skeiding tussen die lig en die duisternis gebring.
Op die vierde dag het God verder beveel dat daar ligte moet wees in die hemel (son, die maan en die sterre) wat dag en nag onderskei, die aarde verlig en dien as tekens om seisoene, dae en jare te bepaal en reg deur die Bybel lees ons van die effek van lig.
God het lig laat skyn in die donker hemel en aarde, want lig bring biologiese en geestelike lewe en word daarom reg deur die Bybel ʼn simbool van lewe. Daar is ook veel meer lig as net die sigbare lig. Daar is lig wat vir die mens onmoontlik is om te sien, want die mens kan net lig op ʼn spektrum van tussen 400- 700 nanometer (miljardste van ʼn meter) sien.
Dan is daar natuurlik ook geestelike lig of die lig van God wat ontoeganklike lig genoem word, wat God bewoon. Dit is die lig van die heerlikheid van God, wat aan ons lewe gee. Profete het al in die Ou Testament voorspel van die geboorte van Jesus wat na die wêreld sou kom, wat God se lig is wat net soos op die eerste skeppingsdag ʼn einde aan chaos, duisternis en die dood sal bring.
Johannes, een van Jesus se prominente dissipels, begin sy evangelie anders as die ander evangeliste met ʼn verklaring dat Jesus van die begin af daar was en dat daar in Hom lewe was en dat die lewe die lig van mense is. Hy skryf ook Jesus se woorde neer toe Hy gesê het terwyl Hy besig was om die blindgebore man te genees van sy lewe van donkerte: “So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld” (Johannes 9:5 AFR53).
Die lig veroorsaak redding, bevryding en genesing. In Jesus se tweede “EK IS” stelling wys dit op sy unieke Goddelike identiteit en doel. Deur Homself as die Lig van die wêreld te verklaar, het Jesus beweer dat Hy die eksklusiewe bron van geestelike lig is.
Geen ander bron van waarheid is vir die mensdom beskikbaar nie. Sonder Jesus lewe ons in donkerheid en kan ons nie sien wie ons is en wat ons doel hier op aarde is nie. Vir gelowiges reg oor die eeue word die lig van sy heerlikheid sigbaar deur geloof in die openbaring van wie Hy is deur sy Gees en Skrif.
Jesus verlig verder nie net mense se lewens nie, maar nooi ook mense uit om in die lig te lewe: “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Johannes 8:12 NLV).
Lees die volgende Skrifgedeelte en oordink die betekenis daarvan vir jou lewe.
Scripture
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More