Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 27: God gee hoop in tye van wanhoop
"Hoop is die woord wat die vinger van God op die voorkop van elke mens geskryf het" — Victor Hugo.
Elke dagstukkie fokus op iets wat God gee, want ons hemelse Vader is die mees vrygewigste persoon in die heelal. Een van die aspekte waarin God spesialiseer, is om hoop vir die hopelose te gee.
Die rede is, eerstens, omdat Hy die bron van hoop is. Paulus noem die hemelse Vader die God van hoop.
Tweedens, omdat God almagtig is. Dit maak nie saak hoe onmoontlik ʼn saak lyk nie, al is die dood ter sprake. Hy is die Een wat selfs ʼn persoon kan laat opstaan uit die dood. In ʼn gebroke wêreld en lewe waarin daar dikwels onsekerheid, swaarkry, pyn en lyding is, is die hoop wat ons in God vind, ʼn vaste anker vir ons siel.
Een van die mees aangrypende stories in die Bybel is die verhaal van Josef in die boek Genesis. Josef het allerlei beproewings deurgemaak, naamlik die verraad deur sy eie broers; hy is verkoop as ʼn slaaf en het onskuldig in die gevangenis beland.
Deur al hierdie beproewings het Josef sy hoop nie verloor nie. Uiteindelik, deur God se genade, is hy verhef tot ʼn posisie van groot invloed en kon hy sorg dra vir sy familie tydens ʼn tyd van hongersnood.
Josef se woorde in Genesis 50:20 (NLV) is ʼn getuienis van sy geloof in God se doel, selfs te midde van swaarkry: “Julle het my wel kwaad aangedoen, maar God het die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het deur my gesorg dat ʼn groot volk oorleef."
Hieruit leer ons dat selfs in die donkerste oomblikke van ons lewens, God se plan kan deurskemer deurdat Hy hoop kan bring te midde van wanhoop.
God wil hê dat wanneer ons na Hom toe draai in alles:
• Wanneer ons nie weet wat om te doen nie, is Hy ʼn bron van wysheid.
• Wanneer ons voel dat alles ons oorweldig, is Hy vir ons ʼn bemoediging.
• As ons energie opraak, is Hy ons bron van krag.
• Wanneer dinge hopeloos lyk, is Hy ons bron van hoop.
• Wanneer ons gespanne is, is Hy ons bron van vrede.
• Wanneer ons geïrriteerd is, is Hy ons bron van geduld.
• Wanneer ons oorval word met skuld, is Hy ons bron van verlossing.
Laat ons nou na ʼn alledaagse voorbeeld kyk. Stel jou ʼn persoon voor wat met ʼn ernstige gesondheidsuitdaging gekonfronteer word. Hierdie persoon mag dalk deur pyn en onsekerheid gaan, maar dan ervaar hulle die krag en genade van God, die ondersteuning van vriende, familie, medici en gelowiges. Die gemeenskap en sorg wat mense mekaar bied, weerspieël God se liefdevolle teenwoordigheid en die hoop wat Hy ons gee.
As gelowiges is ons geroep om hierdie hoop met mekaar te deel. Ons moet bewus wees van die nood van diegene om ons heen en deur gebed, bemoediging en liefdadigheid die hoop van God uit te straal.
Oordink die volgende Skrifgedeelte en dink aan jou tye van wanhoop en hoe God dit kan vul met hoop:
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More