Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 26 – God gee ʼn doel aan elke mens op aarde
"Die glimlag van God is die doel van jou lewe" — Rick Warren.
God gee aan elke persoon ʼn unieke doel en roeping. Ons geloof in ʼn almagtige God, wat elkeen van ons met ʼn spesifieke doel geskape het, is ʼn bron van rigting vir ons lewens.
In die Bybel, ons geestelike gids vir hierdie lewe, word daar herhaaldelik na die unieke roeping van elke gelowige verwys. In Jeremia 29:11 (NLV) sê die Here: "Ek weet wat Ek vir julle beplan het,' sê die HERE. 'Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toe koms moet hê.'"
Alhoewel hierdie vers betrekking het op sy volk Israel in die ballingskap periode, is dit toepaslik op ons elkeen se lewe. God het elkeen van ons geskape met ʼn doel en talente, en gee deur sy Heilige Gees aan ons gawes en roep ons dan om die doel te vervul.
Dus is ons unieke doel en roeping verweef met ons gawes, talente en passies. Die doel wat God aan ons gegee het verskil met die idee van die wêreld se definisie van sukses en is dikwels diep verbonde daaraan om ʼn verskil in ander se lewe te maak. Jesus het die voorbeeld gestel deur aarde toe te kom om te dien.
In Eksodus, hoofstuk 3, sien ons hoe God Moses roep en aan hom gawes gee om die roeping te vervul. Hy was besig om te werk as ʼn herder toe hy ʼn vuur sien brand, maar dit het nie die bos uitgebrand nie. Toe Moses nader kom, hoor hy God se stem uit die brandende bossie wat hom roep om na Farao te gaan sodat hy God se volk uit Egipte kan uitlei.
Moses reageer aanvanklik met vrees en twyfel oor sy eie vermoëns om hierdie taak te voltooi. Hy besef sy eie ontoereikendheid, maar God verseker hom dat Hy met hom sal wees.
Hierdie oomblik van Moses se roeping is ʼn herinnering dat God dikwels sy werk doen deur gewone mense met beperkings wat soms twyfel in hulle eie vermoë. Ons kan hierdie Bybelverhaal toepas op ons eie lewe deur na te dink oor ons roeping.
God roep ons almal na ʼn spesifieke doel en dikwels mag ons twyfel aan ons eie vermoëns om daardie roeping te vervul. Net soos met Moses, is God se antwoord aan ons: "Ek sal by jou wees ..." (Eksodus 3:12 NLV). God gee aan ons lewens ʼn doel en dan ook die talente, gawes en passie om dit te vervul.
Elke persoon moet God se roeping met nederigheid en vertroue aanvaar, selfs al twyfel hulle in hul vermoëns. God se krag en genade is genoeg om ons te lei om ons doel te vervul. Dit is deur gebed, selfondersoek en intieme gemeenskap met God dat ons meer helderheid kan kry oor ons unieke doel en roeping.
Ons moet bereid wees om God se leiding te volg en gehoorsaamheid te toon wanneer Hy ons roep. Mag ons elke dag leef met die bewustheid dat ons ʼn unieke doel het!
Bestudeer die volgende Skrifgedeelte en bid oor jou werke waarvoor jy bestem is:
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More