Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 25 – God gee vrede
"As gevolg van die leë graf, het ons vrede. As gevolg van sy opstanding, het ons vrede ten spyte van ons moeilikste tye, want ons weet Hy is in beheer van alles wat in die wêreld gebeur" — Paul Chappell.
Die wonderlikste attribuut of karaktereienskap van God is volkome vrede. Daarom dat Paulus Hom die God van vrede genoem het.
Jesaja profeteer hierdie woorde wat ook in die vorige dagstuk gebruik word: “Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy en vrede sal voortdurend uitbrei en nooit ophou nie” (Jesaja 9:5-6a NLV).
Hy is die Vredevors wat nie net vrede gee nie maar met sy vrede heers sodat sy hele heerskappy vrede kan ervaar. Die Hebreeuse woord wat vir vrede gebruik word, is “shalom”, wat veel meer beteken as net die blote afwesigheid van konflik, maar sluit ook gesondheid, welstand, innerlike vrede, voorspoed, geluk en tevredenheid in. Dit is ook ʼn dieper innerlike gemoedstoestand wat voortvloei uit ʼn balans en harmonie tussen ʼn mens self en sy/haar omgewing.
Dit veroorsaak ʼn toestand van gemoedsrus en innerlike kalmte, selfs te midde van uitdagings en onsekerhede. Dit is ook ʼn toestand waarin ʼn persoon vrede het met sy/haar verlede, huidige omstandighede en toekomsverwagting. Dit is uiteindelik wat ons almal begeer.
Die Bybel maak dit duidelik dat ons die vrede by Hom alleen kry. Jesus sê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Johannes 14:27 AFR53).
Ons het juis God se vrede nodig in onstuimige tye, tye van konflik en uitdaging. Die wonderlike nuus is dat God aan sy mense vrede gee wat dit soek. Dawid stel dit self sterker deurdat hy sê: “Die HERE gee krag aan sy volk. Die HERE seën sy volk met vrede” (Psalm 29:11 NLV).
Dink aan die beeld van ʼn kalm stukkie water in die middel van ʼn storm op die see. In ons lewens ervaar ons dikwels stormagtige tye, momente van onsekerheid, beproewinge en selfs lyding. Hierdie storms kan verskeie vorms aanneem, maar God se vrede is soos ʼn kalm see in die middel van alles.
Net soos ʼn see sy kalmte put uit sy diepte, so put ons vrede uit ʼn diep verhouding met God. Ons kan dit ervaar deur gebed, deur die Woord van God te bestudeer en deur ʼn aktiewe verhouding met die Heilige Gees.
Dit is ʼn vrede wat nie net tye van beproewing oorleef nie, maar ook tye van vreugde. Daarom moet ons nooit alleen worstel met die dinge wat onvrede in ons lewens veroorsaak nie, maar na Hom toe draai en alles wat ons onrustig maak aan Hom gee want Hy is die Vors van Shalom!
Mag jy strewe na hierdie dieper vlak van vrede en mag jy sien hoe dit ʼn transformerende krag in jou eie lewe en die lewens van ander kan wees.
Oordink die volgende Skrifgedeelte uit Filippense 4:6-7 en skryf neer wat jy moet doen om God se vrede te ervaar.
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More