Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 22: God gee barmhartigheid
"Niemand is sterk in sy eie krag nie, maar hy is veilig deur die genade en barmhartigheid van God" — Cyprianus.
Een van die mees treffende verhale in die Bybel vertel van God se barmhartigheid teenoor Jona. God het Jona na Nineve toe gestuur om hulle vernietiging aan te kondig. Nineve het hulleself bekeer weens die waarskuwing en aankondiging van Jona en God het besluit, in sy barmhartigheid, om die stad van vernietiging te spaar.
Jona was hieroor baie kwaad want hy wou gehad het dat God onverbiddelik moes wees en sy wraak oor die stad moes uitgiet, terwyl hy eintlik geweet het dat God ʼn genadige en barmhartige God is. Barmhartigheid, is uiteindelik nie net ʼn gevoel of ʼn emosie nie.
Dit is ʼn Goddelike krag wat die vermoë het om harte, lewens en die wêreld te verander. Dit is die krag om te transformeer, te genees en om lief te hê. God se barmhartigheid is nie soos ons sʼn nie. Dit is nie beperk nie. Dit is nie altyd voorwaardelik nie. Dit is nie gebaseer op wie ons dink dit verdien nie.
God se barmhartigheid is grensloos, onvoorwaardelik en dit is vir almal. Ja, selfs vir diegene wat ons dink dit nie verdien nie. Die Hebreeuse woord vir barmhartigheid in die Ou Testament kom van die grondwoord wat baarmoeder beteken. Net soos ʼn moeder haar kind in haar baarmoeder dra, versorg en beskerm, so dra God ons ook in sy barmhartigheid, en koester en beskerm Hy ons.
Dit is die krag van God se barmhartigheid. Dit vergewe die onverskoonbare. Dit reik uit na die onverdiende en is lief vir die liefdelose. Laat ons dus nie soos Jona wees wat God se barmhartigheid bevraagteken nie. Laat ons dit eerder koester.
Kom ons leef dit uit. Kom ons wys dit, want dit is wat dit beteken om ʼn volgeling van Christus te wees: Om God se grenslose, onvoorwaardelike en allesomvattende barmhartigheid te betoon aan almal wat ons ontmoet.
Oordink die volgende Skrifgedeelte uit Psalm 86:15-17 en skryf neer wat dit vir jou beteken.
Scripture
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More