Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 21: God gee sy krag in ons swakheid
"Met die krag van God in ons, hoef ons nooit die magte om ons te vrees nie" — Woodrow Kroll.
God gee sy krag in ons swakheid. Dit is ʼn belofte wat elkeen van ons kan koester in tye waarin dit vir ons voel asof die omstandighede en die uitdagings van ons bestaan ons oorweldig. Die krag word gevind in sy genade of onverdiende guns. Ons kan dit nooit verdien nie.
Dit is ʼn geskenk wat Hy vrylik vir ons gee, nie as gevolg van enigiets wat ons gedoen het nie, maar bloot as gevolg van wie Hy is. Die Bybel sê vir ons dat hierdie genade voldoende is. Dit is meer as genoeg.
Dit maak nie saak waardeur ons gaan nie, hoe groot ons probleme is, of hoe diep ons sondes is nie, God se genade is genoeg om dit alles moontlik te maak, ongeag hoe swak ons is.
Maar wat beteken dit dat God se genade genoeg of voldoende is?
Ons word aanvaar: Ten spyte van ons gebreke, ons foute, ons mislukkings en ten spyte van die feit dat ons tekort skiet aanvaar God ons. Hy het ons lief net soos ons is. Ons hoef nie daarna te streef om sy liefde of goedkeuring te verdien nie. Sy genade is genoeg om al ons tekortkominge tegemoet te kom en om ons plek in sy familie te verseker.
Ons word bemagtig: God red ons nie net en laat ons op ons eie sukkel nie. Hy gee aan ons sy genade en sy krag en sterkte om die lewe te leef waarvoor Hy ons geroep het. Ons hoef nie op ons eie vermoëns staat te maak nie. Sy genade is genoeg om ons toe te rus vir elke uitdaging, elke beproewing en elke goeie werk wat Hy vir ons voorberei het.
Ons is veilig: Ons hoef nie in vrees of onsekerheid oor ons toekoms te leef nie. Dit maak nie saak wat gebeur nie, ons kan vertrou dat God se genade genoeg is om ons deur te dra. As God vir jou is, kan niks jou skade aandoen nie.
Ons is vry: Ons is nie gebonde aan ons foute in die verlede of ons huidige stryd nie. Ons word nie gedefinieer deur ons swakhede of ons mislukkings nie. As gevolg van God se genade is ons vry om ons skuld en skaamte te laat vaar. Ons is vry om in die waarheid te leef van wie ons in Christus is.
Om die krag van God se genade te koester, is lewensveranderend. Dit kan ons bevry van ons gevoel van minderwaardigheid weens ons swakhede en gee ons krag om ons uitdagings die hoof te bied en om ons Godgegewe drome na te jaag.
Dit kan ons vul met ʼn diep gevoel van vrede en veiligheid, wetende dat ons in die liefdevolle, kragtige, voldoende genade van God gehou word. Paulus het hierdie genade eerstehands ervaar nadat hy geworstel het met sy swakhede en daaroor gebid het.
God het hom geantwoord: “My genade is genoeg vir jou, want My krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking” (2 Korintiërs 12:9a NLV).
Oordink die volgende Skrifgedeelte uit 2 Korintiërs 12:9-10 en skryf neer wat dit vir jou beteken:
Scripture
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More