Ontdek Die Grootste GewerSample
Dag 24: God gee ʼn ware koning aan die wêreld
"Want ʼn Kind is vir ons gebore, ʼn Seun is aan ons gegee. Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy en vrede sal voortdurend uitbrei en nooit ophou nie. Vanaf die troon waarop Sy voorouer Dawid gesit het, sal Hy vir altyd regverdig en reg regeer. Die toewyding van die HERE, die Almagtige, sal dit waarborg" (Jesaja 9:5-6 NLV).
Solank as wat daar opgetekende geskiedenis is, word ons bewus van mense se behoefte aan ʼn koning. Wanneer ʼn goddelike koning ʼn land regeer is daar orde, voorspoed en vrede en die teenoorgestelde is ook waar.
Soos die koning van die land is, so is die land. In ons moderne wêreld is konings nie ʼn onbekende verskynsel nie. Van die 195 lande in die wêreld is daar 43 lande wat konings (monargieë) het.
Die meeste van die konings is simboliese konings in demokratiese staatstelsels terwyl net sewe konings absolute regeerders is. Koning Charles van Engeland is so ʼn voorbeeld. Hy het amptelik koning geword op 6 Mei 2023 na die afsterf van sy ma Koningin Elizabeth II en is die simboliese koning van 15 lande.
Israel het ná die rigterstydperk, wat ʼn baie onstabiele tyd was, ʼn koning begeer en daarom het God vir Saul uitgekies. Na Saul het Dawid en Salomo in die gesamentlike ryk gevolg en daarna, onder Rehabeam, het die koninkryk van Israel geskeur in Juda (die Suidelike ryk, Juda en Benjamin) en Israel (die Noordelike ryk, die tien ander stamme).
Juda het verder 20 konings gehad en Israel 19 konings. By uitsondering was slegs agt van die konings van Juda goeie konings. Die slegte konings was in die Bybel geïdentifiseer met die woorde “... en nie gedoen wat reg was in die oë van die HERE sy God ...” (2 Konings16:2 AFR53).
Selfs die agt goeie konings van Juda was problematies. Alles was nie wel nie. Dawid was die voorbeeld van ʼn goeie koning wat ʼn man was na die hart van God, maar het ook in gebreke gebly om volkome regverdig te wees, God se geregtigheid op aarde te openbaar, en God se shalom te laat heers op aarde.
Daarom was die nasionale verwagting waaroor profete geprofeteer en mense gedroom het van ʼn Goddelike koning in voortsetting van die troon van Dawid wat regverdigheid, geregtigheid en shalom vir ewig sal bring deur sy heerskappy.
Dit is wat Jesaja se profesie beteken van die Kind wat gebore is met koninklike titels van “Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5b NLV). Konings en heersers het ʼn groot invloed op die geskiedenis gehad, maar die grootste Koning wat ooit geleef het en ooit sal wees, is Jesus. Daarom dat die Bybel Jesus die Here van die here en die Koning van die konings noem.
Jesus is gebore op aarde om die prys van sonde en ongeregtigheid te betaal, maar gaan weer kom om finaal met sonde en ongeregtigheid af te reken en vir ewig as Koning te regeer.
Hierdie waarheid en wete dat God ʼn koning gee wat ʼn einde sal bring aan sonde, lyding en teëspoed en wat regverdig sal regeer, God se geregtigheid sal laat geskied en shalom aarde toe bring, moet ʼn hoopvolle verwagting vir elke persoon veroorsaak.
Oordink die volgende Skrifgedeelte uit Openbaring 19:11-16 en skryf neer wat dit vir jou beteken.
About this Plan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More