YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 33 OF 364

Hoe ken jy God? – Hebreërs 2:10

Die toekoms van die mensdom is in die hande van Jesus Christus. Dít is waarom die skrywer soveel klem daarop lê om die gemeente aan te moedig om in ’n verhouding met Hom te kom en te bly. En die verhouding is veral moontlik deur gefokusde aandag te gee “aan dit wat ons gehoor het,” die oorgelewerde boodskap van die Here Jesus Christus. Dán voorkom die gemeente dat sommige nie dalk wegdryf van Hom nie.

Jesus is daarom die Leidsman van hulle verlossing, want die toekoms van die mensdom is aan Hom verbind. En die skrywer bewys dit met ’n uitleg van Psalm 8 wat hy op Jesus van toepassing maak. God het immers nie die wêreld wat kom aan engele onderwerp nie. Sy plan was volgens Psalm 8 eintlik nog altyd dat die mens die kroon van sy skepping sal wees, en dat alles aan hulle onderworpe sou wees.

Dit is egter iets wat nog nie ’n werklikheid geword het nie, behalwe dat ons iets daarvan kan raaksien in Jesus, die een wat met heerlikheid en eer gekroon is. Hy is vir ’n kort rukkie “minder as die engele gemaak,” sodat Hy sy verlossingswerk kon afhandel en ter wille van almal die dood kon ervaar.

Dit is die weg van verlossing wat God in sy wysheid gekies het, om die Leidsman van hulle verlossing “deur lyding tot volmaaktheid” te bring. Dit het ’n eenheid tussen die Leidsman en sy volgelinge gebring wat hulle nie net heilig maak nie, maar familie maak!

1. God openbaar Hom nie net in die skepping en sy geskrewe woord nie. Ook, en veral in Jesus, ons Voorganger, soos Hebreërs 1 dit uitspel. Wat leer jy uit hierdie vers oor die doel van God se openbaring aan ons?

2.Watter rol dink jy het lyding gespeel in Jesus se lewe en gereedheid vir sy taak? Wat is Jesus se taak? Watter rol kan lyding in jou lewe speel? Hoe help Jesus jou daarmee?

3. Lees die gedeelte later vandag weer om jou aan Jesus, jou Voorganger, te herinner.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Hebreërs 2 met die tema: Jesus is die Leidsman van ons verlossing en die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis.

Scripture

Day 32Day 34

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More