Wie Is God?Sample
Hoe ken jy God? — Psalm 19:2, 8; Spreuke 22:17-21
Psalm 19 is een van die skeppingspsalms (soos ook 29, 33, 65, 74, 104, 136, 147 en 148). Dit roep die verloop van die skeppingsverhaal van Genesis 1-3 in herinnering. Die Psalmis het gehoop dat dié Psalm mense in vervoering sou laat oor God, sodat hulle later as hulle van die tempel af huis toe gaan, met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God sou lewe, sodat elke keer wat hulle weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, hulle van God bewus sou bly.
Maar dié Psalm gaan nie net oor die heerlikheid van die skepping nie. Dit beweeg van 'n loflied oor die skepping na 'n loflied oor die wet van God wat vir die mens doen wat die son doen vir die skepping. Dit bring lig en krag en die teenwoordigheid van God self tot in die dieptes van die menslike hart (NT Wright). En hierdie wet is natuurlik die spilpunt van die verbond wat Israel aan God verbind het, die hart van sy Woord aan hulle. Met die wet as hulle wegwyser, was Israel die uitverkore volk van die SkepperGod.
En die Psalmis het gehoop dat dié skets van die Woord, soos druppels heuning uit ‘n heuningkoek, hulle sou inspireer, sou laat begeer om in die Woord te lewe, dit hulle huis te maak, sodat God nie net ‘n veraf en van-bo-af God sou bly nie, maar die persoonlike God, dié een wat in die lewe deur sy Woord betrokke is, en hulle Hom sou ontmoet in die Woord en met sy Woord aan hulle sy en in hulle hart met Hom ‘n pad sou stap.
Spreuke 22 sluit by dié gedagtes aan en leer ons om ons ore vir wysheid te spits, want dit help jou om self wyse woorde kwyt te raak in geselskap. Dit is ook die primêre manier waarop ‘n mens leer om op die Here te vertrou. Dit is sekerlik die belangrikste funksie van die wysheid. Die bevestiging van die wysheid lê in die vrug wat dit oplewer.
1. Hierdie beskrywings van hoe ons God leer ken, is fundamenteel. Wat staan vir jou uit van die twee maniere waarop ons Hom leer ken? Hoe verskil dit van ander kennis wat ons opdoen in die lewe?
2. Die beskrywings van hoe ons God leer ken, lei ‘n mens tot verwondering en lofprysing oor sy omvattende openbaring. Loof God dat Hy dit so maklik maak om Hom te ken.
3. Lees die verse later vandag weer om jou aan die wonder van die God se openbaring te herinner.
4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Psalm 19 en Spreuke 3 met die temas: God bestaan en God praat met ons, en God is daar vir dié wat by Hom skuil!
Scripture
About this Plan
Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.
More