YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 115 OF 364

Sal God sonde en afgodery ongestraf laat bly? — Eksodus 15:3-19

Eksodus 15 gaan oor Moses, Mirjam en Mara. Moses (Eksodus 15:1-19) en Mirjam (Eksodus 15:20-21) span saam en lei die volk in ‘n loflied wat die Here se verlossing van sy volk verheerlik sowel as sy verplettering van sy vyande. Die lied fokus egter nie net op wat Hy alles vir die volk by die Rietsee gedoen het nie, maar vir wie Hy inderdaad vir hulle was tot in die beloofde land. Hy wys hier dat Hy nie net hoog verhewe is nie, maar die Een wat naby kom en direk betrokke raak by die lewe van sy mense.

Die lied is aan die een kant ‘n briljante stuk poësie wat selfs in die vertaling in Afrikaans iets van sy Hebreeuse trefkrag behou. Die verhaal van die verlossing wat God by die Rietsee vir die Israeliete bewerk het, word op diepsinnige en beknopte wyse in ‘n lofsang verwoord. Dit begin met ‘n refrein in vers 1 wat in vers 21 deur Mirjam herhaal word, waarskynlik bedoel vir wisselsang met Moses en die volk. Daarna word die elemente van die verhaal van verlossing uit die mag van farao by die Rietsee ingespan om die Here se verhewe soewereiniteit te besing.

Aan die ander kant is die lied ook teologies gewortel in die beskrywing van God as die gedugte krygsman wat sy mag op ongeëwenaarde wyse ten toon gestel het. Dit is wie God vir hulle in die hitte van hulle stryd teen farao en later teen ander nasies sou wees. Hy vernietig wie teen Hom opstaan veral ter wille van sy volk. In sy teenwoordigheid is sy volk veilig selfs wanneer die strome water regop staan langs hulle soos ‘n muur. Daarteenoor sink sy teenstanders soos lood in die magtige waters van sy toorn na benede wanneer hulle dit durf waag om teen Hom op te staan. Dit laat vrees en angs die nasies oorval. God is nie net die Begeleier en Beskermer in die wolk- en vuurkolom nie. Hy is ook die: “Bewerker van wonderdade”, soos die beheer oor die watermassas van die see bewys wat in die keersy van die verlossing van sy volk sy vyande verpletter. Hierdie Jahwe is God, oor alles en almal, en dit vir ewig.

1. Hoe laat dit jou dink oor God?

2. Hoe laat dit jou voel oor God?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat jy God kan vertrou om jou te beskerm en ook op te tree teen jou vyande.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Eksodus 15 met die tema: Die Here is die Bewerker van wonderdade wat sy volk beskerm en sy vyande verpletter.

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More