YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 120 OF 364

Vraag 18: Is daar enige manier waarop jy God se straf kan ontvlug en in sy guns kan kom?

1. Dink jy dat God sonde en afgodery regtig straf? In hierdie lewe? In die toekomstige lewe? Hoekom? Hoe kan ‘n mens die straf ontwyk en in God se guns kom?

2. Lees my antwoord op die vraag en oordink dit.

Ja, deur die grenslose genade van die Verlosser. Hy dra die straf vir die sonde en gee my vergifnis van sonde. Ek kan myself nie verlos nie, want God wil aan geen ander skepsel die sondeskuld wat ek gemaak het, toereken nie; en geen gewone skepsel kan die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra en ander skepsels daarvan verlos nie.

3. Sonde en afgodery is nie kinderspeletjies nie. Dit laat God se toorn ontvlam en bring straf oor almal wat hulle teen Hom verset. Dit is persoonlik. Dit is werklik. Hoe laat dit jou voel oor God?

4. Lees die verhaal van die giftige slange in Numeri 21:1-9. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

Die verhale in die Ou Testament is voorbeelde vir ons. Ten spyte van gebedsverhoring kla die volk weer oor kos en water. Hulle sondig teen die Here en teen Moses. Die Here stuur as straf giftige slange onder hulle. Die volk bely hulle sonde en bid dat die Here die slange sal wegvat. Die Here laat Moses ’n afbeelding maak van ’n giftige slang bo-op ’n paal. As ’n slang iemand gepik het, het hy na die bronsslang gekyk en bly leef. Jesus verwys in die Nuwe Testament na dié verhaal. Hy dra aan die kruis die straf vir die sonde. Hy vergewe ons sonde.

6. Die verhaal van die giftige slange demonstreer dat God se straf werklik en persoonlik is. Maar, die giftige slange is gelukkig ten diepste God se manier om die volk te keer van hulle opstand teen Hom en sy pad vir die lewe. God wil hulle help om die pad van verlossing te ontdek, en só deur sy werk in hulle, aan Hom gehoorsaam te word. Watter boodskap het dit vir ons vandag?

Day 119Day 121

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More