YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 102 OF 364

Wat is sonde? – 1 Johannes 3:1-10

Johannes motiveer sy oproep om aan te hou om te doen wat reg is met vyf perspektiewe:

  1. Hy waarsku hulle dat hulle vrymoedigheid by die Here Jesus se wederkoms skade sal ly as hulle beskaamd voor Hom staan oor hulle gebrekkige Christelike lewe.
  2. Hy wys hulle op Jesus se regverdige karakter wat hulle moet aanspoor om te doen wat reg is. Dit sal aan hulle hul kindskap bevestig.
  3. Hy bemoedig hulle met die feit dat hulle kindskap ’n bewys van God die Vader se groot liefde is. En dit is inderdaad so, dat hulle God se kinders is, hoewel die presiese nuwe gestalte by die wederkoms nog ondeursigtig is.
  4. Dit is dié hoop wat ons aanspoor om onsself rein te hou en die sonde te vermy. Jesus het immers gekom om ons van ons sonde te verlos en ons deel van Homself te maak. Ons kan dus nie aanhou met sondig en steeds deel van Hom bly nie. Immers, "Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid." (vers 4)
  5. Die onderskeid tussen dié wat van God is en dié wat van die duiwel is, word in ons lewe van regdoen sigbaar. Die Here Jesus het gekom om die werke van die duiwel te vernietig. Wie dus in Hom bly, het deel aan die verlossing van die sonde, want God se saad, sy natuur, bly in hom of haar.

1. Johannes lê die hoofboodskap van Jesus uit as ‘n verskyning om “sonde weg te neem”. Dit het die effek op elkeen wat in ‘n hegte verhouding met Hom leef dat hulle nie kan aanhou sonde doen nie. Hoe ervaar jy dit? Van jouself? Van ander?

2. Johannes lê sterk klem op die feit dat daar ‘n onderskeid is tussen die familie van die duiwel en die familie van God. Lees deeglik wat hulle onderskei. Waar bevind jy jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat jy familie van God is deur in ‘n hegte verhouding met Jesus te leef, sodat jy nie aanhou sonde doen nie.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van 1 Johannes 3 met die tema: Kinders van God doen wat reg is en het mekaar lief.

Scripture

Day 101Day 103

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More