YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 106 OF 364

Vraag 16: Wat is afgodery?

1. Wat is afgodery? Wat sluit dit alles in? Hoe kan ‘n mens jou daaraan skuldig maak?

2. Lees my antwoord op die vraag en oordink dit.

Afgodery is om God se werke eerder as God self te aanbid; om my vertroue te stel in iets wat ek uitdink of besit. Afgodery is om die verering van die onsterflike God met sterflike afbeeldings, menslike uitdinksels of aardse besittings te vervang en betekenis en blydskap, hoop en sekerheid daarin te soek. Daarmee word die ware kennis van God verkwansel vir die dwaasheid van die leuen.

3. Ons is geneig om afgodery met beelde en heidense godsdienste te assosieer. Calvyn het ons herinner dat die hart voortdurend ‘n fabriek van afgode is. Ook allerlei bygelowe het hy as afgodery beskou. Hy het selfs kerke wat nie by die waarheid van die Skrif bly nie, beskou as ‘n tempel van afgode, omdat hulle valse leringe die plek van die waarheid van die ware God ingeneem het. Hoe dink jy daaroor?

4. Lees die verhaal van Gideon in Rigters 6:1-32. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het hulle toe aan die Midianiete onderwerp. Toe die Israeliete by die Here soebat, het Hy ’n profeet na hulle toe gestuur. Die Here wou nie hê dat hulle afgode soos Baäl vertrou nie. Die Engel van die Here het aan Gideon verskyn en hom moed ingepraat. Hy het sy pa se altaar vir Baäl afgekap. Hy het ’n stewige altaar vir die Here gebou en aan Hom alleen geoffer. Met net 300 man het die Here Gideon gebruik om die Midianiete te verslaan. Baäl was hulpeloos, want afgode is nutteloos.

6. Gideon se verhaal demonstreer die hulpeloosheid van afgode as ‘n hoopvolle boodskap aan die hele volk van Israel. Maar, dit is terselfdertyd ‘n waarskuwende boodskap aan enigeen wat iets anders as God se waarheid bevorder of sy of haar sekerheid daarin soek. Watter “afgode” is daar nog in jou lewe waarop jy eerder vertrou as op God?

Scripture

Day 105Day 107

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More