YouVersion Logo
Search Icon

Wie Is God?Sample

Wie Is God?

DAY 109 OF 364

Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25

Paulus beskryf hier die toorn van God oor die goddeloosheid (asebia) en ongeregtigheid (adikias) van die hele mensdom. Hulle erken God nie as Skepper nie ten spyte van die algemene openbaring. Omdat God se wese en werke vir almal sigbaar is, kan niemand hom- of haarself verontskuldig dat hulle nie geweet het nie, want die kennis van God is van altyd af sigbaar. Die mensdom kies egter om eerder afgode te dien. Hulle verruil die aanbidding van God as Skepper vir die aanbidding van die skepping en sy skepsels.

Die gevolg is God se driedubbele "oorgee”-aksie:

  1. God gee die mensdom oor aan seksuele immoraliteit om mekaar se liggame op perverse en skandelike maniere te onteer (vers 24-25).
  2. God gee die mensdom oor aan skandelike seksuele begeertes waar vrouens met vrouens en mans met mans teen-natuurlike skandelike seksuele omgang het (vers 26-27) en in hulleself die straf vir hulle dwaling ontvang.
  3. God gee die mensdom oor aan korrupte verwerplike denke wat na vore kom in allerlei sondige en onbetaamlike gedrag. Trouens, die mense doen nie net hierdie verwerplike dinge nie, maar praat dit goed dat ander dieselfde sondes pleeg.

God het dus besluit om die mensdom nie meer te beskerm van die vernietigende gevolge van hulle perverse keuse vir die skepping / skepsels eerder as die Skepper nie. Nie in terme van hulle immoraliteit en skandelike seksuele verhoudings nie. Ook nie in terme van hulle korrupte sondige gedrag nie. Die mensdom is onherroeplik oorgegee aan God se oordeel ... behalwe natuurlik as hulle sy roepstem in Jesus Christus hoor en in Hom glo. Jesus is God se geskenk van vryspraak deur geloof. Deur in Jesus te glo kan ons God die Vader se toorn vryspring en deur die Gees gelykvormig aan die Seun gemaak word (Romeine 8:29). God het Jesus aan ons “oorgegee” om ons as sy kinders meer as oorwinnaars te maak (Romeine 8:32).

1. Paulus is duidelik daaroor dat afgodediens nie net bestaan in die afbeeldings wat van afgode en hulle begeerlikheid gemaak word nie, maar dat dit ook sigbaar is in die verheerliking van die mens en sy begeerlikheid. Hoe dink jy daaroor?

2. God se reaksie op die verheerliking van die mens – skepsels in plaas van die Skepper – is om hulle aan hulle eie sondige hartstogte oor te gee sodat hulle onsedelikheid met mekaar in immorele praktyke bedryf. Hoe dink jy oor hierdie tipe “oorgee”-aksie van God? Hoe laat dit jou dink oor seksualiteit?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat God bó alles gedien moet word, selfs in die wyse waarop jy jou seksualiteit uitleef.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Romeine 1 met die tema: God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo.

Day 108Day 110

About this Plan

Wie Is God?

Werk die volgende jaar deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het sewe bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere antwoorde uit die Bybel. Dag 6: Antwoorde uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op gelowiges uit alle kerkverbande. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of in 'n kleingroep.

More