Spreuke – eenjaarleesplanSample
Die “sewende lewensles” van die pa aan sy seun is om koers te hou op die pad van wysheid. In die proses is sy ore (Spreuke 4:20), hart (Spreuke 4:23), mond (Spreuke 4:24), oë (Spreuke 4:25), en voete (Spreuke 4:26) belangrik, almal metafore vir aspekte van sy soeke na en uitlewe van die wysheid.
· Sy ore moet vir die wyse onderrig van sy rolmodelle uitgeleen word. Hulle leiding en opvoeding moet gevolg en nageboots word.
· Sy binnekant moet beskerm word teen boosheid en negatiwiteit, meer as enigiets anders. Dit máák saak wat ’n mens dink en hoe jy dink.
· Sy mond moet reguit praat en leuens en misleiding soos die pes vermy.
· Sy oë moet reguit kyk na die pad waarvoor hy deur die wysheid geroep is. Hoewel dit in dié konteks meer met eerlikheid en opregtheid te make het, laat dit ‘n mens tog dink aan Job wat van homself gesê het dat hy ’n verbond met sy oë gesluit het om nie na ’n ander vrou te kyk nie (Job 31:1), en Jesus wat dieselfde uitspraak in die Bergrede gemaak het (Matteus 5:28).
· Sy voete moet doelgerig bly op die pad wat die wysheid vir hom afgebaken het. Sy lewenstyl moet verband hou met wat in sy binneste gebeur.
In jou vertroue op God en in jou luister na Hom en in die inspanning om die regte pad te vind en daarop te hou, is daar miskien min dinge wat so belangrik is as om jou hart – jou binnekant – bo alles te bewaar, om versigtig om te gaan met jou diepste oortuigings en motiverings: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (Spreuke 4:23).
Natuurlik is dit nie net vertroue op God, ‘n gesindheid om te luister en die fokus op jou manier van dink, jou binnekant, wat jou pad bepaal nie. Jy moet ook die pad stap wat God aanwys.
Soos Spreuke sê: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree” – Spreuke 4:26. Dit wil sê, soos dit in die AFR1933/53-vertaling staan: “Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees,” en vers 27: “wyk nie regs of links af nie, (en) hou jou voet ver van boosheid.” Soos die wyses inderdaad later sal eggo: “Luister, my seun, soek die regte insig: bly op die regte pad” (Spreuke 23:19).
Deur vir jou bakens op jou pad op te rig en daarvolgens koers te hou, sal jou nie net op die regte pad hou nie, maar dit ’n vreugde maak, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.
Scripture
About this Plan
Lees die boek Spreuke in 365 dae deur met hierdie leesplan. Daar is ’n spreuk vir elke dag met ‘n kort beskrywing van die betekenis daarvan. So sal jy ‘n goudmyn van Godgegewe slagspreuke vir jou eie persoonlike lewe ontdek. Dit is ook ‘n uiters geskikte bron vir ouers of opvoeders om as vertrekpunt in hulle onderrig en opvoeding te gebruik. Geniet dit!
More