Spreuke – eenjaarleesplanSample

Kom ons kyk 'n bietjie terug na hoofstuk 15. Hierdie bydrae is ’n bietjie langer as gewoonlik. As jy nie alles kan lees nie, fokus net op die laaste 4 paragrawe. Dit handel oor hierdie drie verse.
Woorde het 'n ongelooflike impak op mense.
- Dit kan mense bou of dit kan hulle breek: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam” (Spreuke 15:1).
- Wyse woorde maak kennis begeerlik, terwyl dwase woorde onsinnig is. “Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks; dwase mense sê net dwase dinge” (Peterson en Spreuke 15:2).
- "Kalmerende woorde bring lewe, skynheilige woorde breek mense" (Spreuke 15:4).
- "Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê" (Spreuke 15:7). Hulle diepsinnige begrip op wat regtig belangrik is, verlig ander mense se begrip met die regte soort kennis.
- Hierdie fokus op woorde bly ’n lewenslange reis: 'n Verstandige (intelligente) mens is op soek na kennis (Spreuke 15:14) en dink eers na daaroor voor hy of sy dit met ander deel (Spreuke 15:28). Dit is in wese wat regverdigheid en billikheid beteken, om eers na te dink oor wat regtig aan die gang is, voordat in gesprek getree word.
- Want, na alles, wat is beter as die regte woord op die regte tyd (Spreuke 15:23) as dit uit diep nadenke kom? Dit is nie net vir jouself ’n vreugde nie, maar vir almal wat jou aanhoor. Hierdie wysheid van Spreuke oor woorde en die betekenis wat dit aan mense se lewens gee, is ’n universele waarheid, wat oor die hele wêreld weerklink, in al sy diverse verskillende kontekste. Byvoorbeeld: ’n Goeie tyding verkwik ’n mens (Spreuk 15:30) en dit is waar van ons almal.
- Mense wat ag slaan op woorde en die betekenis wat dit oordra, word self wys, al is woorde soms ook teregwysings (Spreuke 15:32) en beteken dit dat jy nederig genoeg moet wees om geleer te word, voor die eer van ’n wyse lewe jou deel word (Spreuke 15:33). Dit is juis in beraadslaging, waar van verskillende kante af na ’n saak geluister word, wat die planne wat ons maak suksesvol kan wees (Spreuke 15:22).
- Trouens ons woorde maak ten diepste vir God saak, ons woorde aan mekaar, EN ons woorde aan Hom! Let op wat Spreuke sê: “... aangename woorde is vir Hom aanneemlik” (Spreuke 15:26), waar veral gedink word aan ons woorde in gesprek met mekaar! Ons woorde aan mekaar maak vir God saak. Ook ons woorde wat aan God gerig is, maak vir Hom saak. Daarom lê Spreuke ook klem daarop dat God die gebede van opregtes en regverdiges aanvaar en hoor (Spreuke 15:8,29). Wat ’n belofte!
- Spreuke is ook baie bewus van God se alomteenwoordigheid, wat hier onder andere uitgespel word as sy alsiendheid. "Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop" (Spreuke 15:3). Peterson gee daarom vers 1 tot 11 die opskrif: “God kyk niks mis nie.” Inderdaad!
Dit sal goed wees om vir jou ‘n beeld te vorm van wat alles in hoofstuk 15 van God gesê word en ook hoofstuk 16, wat ons nog gaan lees. Uiteraard is dit net ‘n gedeeltelike prentjie, maar nietemin ‘n inspirerende een:
- God is alsiende en hou alle mense, goed en sleg, dop (Spreuke 15:3).
- God luister na die gebede van opregtes, maar verafsku die offers en lewens van goddeloses (Spreuke 15:8-9, 29). Wanneer Hy met jou tevrede is, laat Hy selfs jou vyande in vrede met jou lewe (Spreuke 16:7).
- Alle mense se gedagtewêreld lê oop en bloot voor God (Spreuke 15:11).
- God beskerm weduwees (Spreuke 15:25) en gee voorspoed vir dié wat ag gee op sy woorde (Spreuke 16:20).
- God hou van aangename woorde (Spreuke 15:26).
- God bepaal wat in jou lewe gebeur – die laaste woord daaroor kom van die Here af (Spreuke 16:1,9,33). Dit sluit die feit in dat Hy jou hart en gesindheid ondersoek (Spreuke 16:2) en dat jy Hom daarin moet ken (Spreuke 16:3).
- Die Here het alles met ‘n doel gemaak, selfs die goddelose speel ‘n rol in sy plan (Spreuke 16:4).
- Die Here hou nie van verwaande mense nie (Spreuke 16:5).
- God bepaal die norme en maatstawwe van die reg (Spreuke 16:11), wat nie net só in die Joodse tydvak was vir die volk nie, maar steeds ‘n groot impak het in die regstelsel van vandag.
Terug by hoofstuk 16
Die vorm van die Spreuke van Salomo verander in hoofstuk 16 na sinteses eerder as antitese soos dit die geval was in hoofstuk 10 tot 15. Dit sal die geval wees tot aan die einde van hierdie eerste bundel van sy spreuke in hoofstuk 22. ‘n Mens kan die hoofstuk in drie deel, waarvan die eerste en tweede deel ‘n duidelike tematiese samehang het, en die derde deel meer losstaande spreuke oor die wysheid bevat:
- Die mens wik, maar God beskik – Spreuke 16:1-9
- Die ideale koning – Spreuke 16:10-15
- Wysheid is beter as welvaart – Spreuke 16:16-33
Benewens die verse in hierdie hoofstuk wat ons help om na te dink oor ons Godsbeeld (Spreuke 16:1,7,9,11,2), vorm vers 1 tot 9 ‘n unieke eenheid waarin nagedink word oor die samehang tussen mense se voornemens en beplanning aan die een kant, en die Here se bepaling en beskikking van wat gebeur. In die woorde beplan (menslik) en bepaal (Goddelik) lê die boodskap van dié gedeelte opgesluit (Spreuke 16:9). Albei is noodsaaklik!
Terug by die teks van vandag
Vers 1 lees letterlik in Hebreeus: “Van die mens is die planne/voorbereiding van die hart (gedagtes), maar van die Here is die antwoord van die tong.” Die tweede deel van die vers kan die beste verstaan word as God se reaksie op wat die mens beplan, dit wil sê, dit is die antwoord van sy tong, by wyse van spreke. Peterson vertaal dit daarom so: "Sterflikes maak uitgebreide planne, maar God het die laaste woord," soos die 1983-vertaling dit ook inderdaad skryf.
Met al die uitsprake in Salomo se eerste bundel oor mense se woorde en die impak daarvan op die gemeenskap en die lewe, is hierdie sintese van hom miskien die belangrikste spreuk. Ons woorde maak saak. Dit is duidelik, soos in hoofstuk 15 al gesien. God se woorde maak nog meer saak. Dit is ook duidelik, soos reeds in hoofstuk 15 gesien. Wat hoofstuk 16 egter nog helderder daaroor sê, is dat God se woorde lotsbepalend is. Hy doen wat Hy sê.
Omdat God die laaste woord oor alles het, beteken dit vir my ook dat Hy die eerste woord oor alles moet hê, presies wat in Spreuke 1:1-7, en Spreuke 3:1-12 aangevoer word, anders kan dit 'n mens suur bekom. Dit is waarom ontsag vir Hom die begin van die wysheid is, trouens selfs die begin van kennis is, ten minste van dié kennis wat die moeite werd is, soos Spreuke nou al 'n paar keer beklemtoon het.
God kyk na gesindhede (vers 2). Peterson vertaal dit interessant genoeg "God ondersoek wat goed is," wat insiggewend is. Daarom, beplan en voer uit wat God wil hê, dan sal jou planne uitwerk (vers 3).
Scripture
About this Plan

Lees die boek Spreuke in 365 dae deur met hierdie leesplan. Daar is ’n spreuk vir elke dag met ‘n kort beskrywing van die betekenis daarvan. So sal jy ‘n goudmyn van Godgegewe slagspreuke vir jou eie persoonlike lewe ontdek. Dit is ook ‘n uiters geskikte bron vir ouers of opvoeders om as vertrekpunt in hulle onderrig en opvoeding te gebruik. Geniet dit!
More
Related Plans

Journey Through the Gospel of Luke

Built to Last: A Strong Family in Church Planting

Starting Fresh in Dating: Renewing Communication for the New Year

Worship, War, and Wisdom: Church Planting Lessons From David

Sing Over Me by Vance K. Jackson

UNPACK This...Super Bowl LIX

The Synoptic Gospels

Trail Builders: Riding Together in Discipleship

Marriage God's Way
