kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample
Week 3: Treur
Dag 4: Soveel om oor te treur
"Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word" Matteus 5:4.
Ons lei soveel verliese in hierdie lewe. Ons staan mense aan die dood af. Daar is verhoudinge wat tot ‘n einde kom as gevolg van vriendskappe wat verbrokkel. Daar is huwelike waarin ons voel dat ons weg van mekaar groei. Daar is kinders wat vervreemd raak van hul ouers wanneer hulle hul eie pad begin stap of net besig raak. Daar is ‘n liefde wat ons baie graag wil hê wat ons nie kan kry nie en waaroor ons obsessief raak. Dan is daar die drome wat nie realiseer nie of nie heeltemal uitwerk soos ons gehoop het dit sal nie. Daar is werksgeleenthede wat ons verloor.
Elke wittebrood waarop ons gaan — hetsy dit ‘n huwelik, werkgeleentheid, blyplek of wat ook al — kom tot ‘n einde. Daar is ook die aspekte rondom onsself waaroor ons moet treur. Ons eie onbevoegdheid om nie iets te kon doen wat ons eintlik moes doen nie. Ons nalatigheid om nie die goed te doen wat ons moes gedoen het nie. Ons ontrouheid. Die seer wat ons veroorsaak het deur die woorde wat ons gesê het, die dinge wat ons gedoen het teenoor mense wat naby ons is. Ons sondes.
Die groot werk wat gedoen moet word is om te treur. Dit is nie die enigste ding wat gedoen moet word nie, maar dit is iets wat ons nie kan nalaat nie. Ons moet ons eie pad vind. Dit is nie eenvoudig nie, daar is nie ‘n formule nie en elkeen van ons het ons eie manier om dit te doen.
Doen dit:
Is daar enigiets in die bogenoemde lys waaroor jy wonder of besef dat jy dit ignoreer of afmaak as onbenullig? Ruim tydj in om daaroor na te dink en met Hom daaroor te praat.
Gebed om te herhaal:
Here, ek vra die genade van trane, om te treur oor my verliese.
Scripture
About this Plan
Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.
More