YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample

kykNET Lydenstyd Gids 2023

DAY 20 OF 39

Week 3: Treur

Dag 2: Waarom treur?

"Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word" Matteus 5:4.

Ek het ‘n tyd gelede met iemand gepraat wat sê dat sy in ‘n oorlewingstryd is en nie tyd het om te gaan sit en huil nie. Sy moet aangaan met die lewe. Haar terapeut het haar aanbeveel om tot stilstand te kom, haarself kans te gee om te treur en haar gemaan dat haar siel en liggaam teen haar sal draai en vir haar besluit as sy dit nie doen nie.

Goed gebeur met ons wat ons uitnooi om tot stilstand te kom, na te dink, dit in te neem en dit te voel. Indien ons aanhou hardloop en ons hele lewe so organiseer dat ons dit bly vermy deur net vorentoe te kyk en besig te bly met positiewe dinge, sal ons siel kwyn. In post-traumatiese stres reaksies, speel die pynlike gebeure waardeur ons gegaan het in ‘n eindelose siklus van ongeprosesseerde gevoelens, beelde en fisiese sensasies die heeltyd in ons af.

Die ander probleem is as ons nie sleg kan voel nie, sal ons ook uiteindelik nie goed kan voel nie. Dieselfde deel in ons brein wat ons laat goed voel, is ook die deel van die brein wat ons laat sleg voel. Wanneer ons dit afskakel word ons gevoelloos. Die pyn word nie geprosesseer indien ons nie bereid is om dit te voel nie. Tyd genees nie alle wonde nie. Alhoewel dit tyd vat om te genees, doen tyd nie die werk nie. Om te treur en huil doen die werk. Party van ons is onbewus van die feit dat ons met onverwerkte pyn in ons lewe rondloop. Ons lewe begin grys word en ons dink dat dit te doen het met wat ons doen, met wie ons dit doen, of waar ons dit doen. Ons wil op ander plekke bly, ons lewens met ander mense deel en ander goed begin doen, want ons dink dit sal vir ons 'n beter lewe kan gee. Die geboorte van ‘n nuwe lewe gaan gepaard met pyn, net soos die geboorte van ‘n baba.

Doen dit:

Hier is ‘n uitnodiging om die groot verliese van jou lewe te besoek. Wat dra ek nog saam met my wat nie afgehandel is nie? Wat vra my aandag? Waarvoor moet ek tyd gee?

Gebed om te herhaal:

Here, ek vra die genade van trane, om te treur oor my verliese.

Scripture

Day 19Day 21

About this Plan

kykNET Lydenstyd Gids 2023

Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.

More