kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample
Week 3: Treur
Dag 1:
Om in hierdie wêreld te leef
moet jy
drie dinge kan doen:
om lief te hê wat sterflik is;
om dit vas te hou
teen jou gebeente en te weet
jou lewe hang daarvan af;
en, wanneer dit tyd word om te laat gaan,
dit te laat gaan.
"In Blackwater Woods" deur Mari Oliver (Uittreksel)
(Vrye vertaling)
"Maria het by die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vorentoe gebuk en sy het ingekyk in die graf. Sy sien toe twee engele. Hulle het wit klere aangehad. Hulle het gesit op die plek waar Jesus se liggaam gelê het. Een engel het gesit waar sy kop was, en die ander engel waar sy voete was. Die twee engele het vir haar gevra: 'Mevrou, hoekom huil jy?' Sy het gesê: 'Hulle het my Here se liggaam weggeneem, en ek weet nie waar hulle Hom gesit het nie.' Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai. Sy sien toe vir Jesus, Hy het daar gestaan, maar sy het nie geweet dit is Jesus nie. Jesus het vir haar gesê: 'Mevrou, hoekom huil jy? Vir wie soek jy?' Maria het gedink dit is die man wat daar in die tuin werk. Daarom het sy vir Hom gesê: 'Meneer, het jy my Here weggeneem? As jy Hom weggeneem het, sê dan vir my waar jy Hom gesit het. Dan kan ek Hom gaan haal.' Jesus het vir haar gesê: 'Maria!' Toe draai sy na Jesus en sê: 'Rabboeni!' Rabboeni is 'n Hebreeuse woord, dit beteken 'My Meneer.' Jesus het vir haar gesê: 'Jy moenie aan My raak nie, want Ek moet nog na my Vader in die hemel gaan. Jy moet teruggaan na my broers, die dissipels. Gaan sê vir hulle Ek gaan na my Vader en my God. Hy is nou ook julle Vader en julle God.' Maria Magdalena het vir die dissipels gaan sê: 'Ek het die Here gesien!' Sy het vir hulle vertel wat Jesus vir haar gesê het" Johannes 20:11-18 ABA.
Deur hierdie verhaal word ons, soos Maria, uitgenooi om na ons pyn en deur ons pyn te gaan.
Ons doen dit deur:
- Ons verliese te aanvaar
Verlies in hierdie wêreld is onvermydelik en veroorsaak pyn. Ons hele wêreld is egter daarop ingestel om pyn te vermy. Nou nooi Jesus ons in hierdie verhaal van Maria om na ons pyn toe te gaan en nie weg te vlug, dit te ignoreer, vermy of ontken nie. Ons word uitgenooi om die verlies te aanvaar en die pyn te voel.
- Die storie agter die pyn te verken
Jesus nooi ons uit om te reflekteer oor wat met ons gebeur, dit te verwoord en met Hom te deel. Hy vra vir Maria waarom sy huil. Dit is nie ‘n veroordelende vraag wat haar kwalik neem omdat sy huil nie. Hy gee om en Hy voel vir haar. Maar Hy nooi haar nou uit om bewus te word van wat aan die gang is. Hy is nou net nie meer teenwoordig op dieselfde manier as wat Hy voorheen was nie. Sy het Hom nie verloor nie, Hy is nog daar. By haar, net op ‘n ander manier. Deur te treur kan sy by die nuwe besef en lewe met Hom uitkom.
- Om te treur
Dit is ‘n proses waardeur sy moet gaan om haar pyn te laat gaan. Jesus gee haar 40 dae tyd om aan te pas en totsiens te sê vir die ou lewe wat Hy met haar gehad het. Hy het vir haar voor die tyd gesê dat dit ‘n beter lewe sou wees. Sy het dit stadig begin verstaan en in die nuwe lewe begin leef. Dit is ‘n proses. In die pyn is daar egter vertroosting. Dit raak beter. Die gereeldheid en intensiteit van die periodes word minder. Dit is asof ons siele tyd nodig het om die skok en die verlies te verwerk, sodat ons in die nuwe lewe kan leef wat Hy vir ons voorberei.
"Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word" Matteus 5:4.
Geloofspraktyk vir die week:
Gebruik hierdie week tyd om ‘n psalm te skryf.
Scripture
About this Plan
Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.
More