kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample
Voorbereidingsweek: Bidplek
ek het vanoggend in u lig kom sit
ek kon net stamelend by u voete bid
ek het soekend deur u boek kom blaai
toe die donkerwinde in my waai,
in my waai, in my waai
ek het dors en honger brood kom vra
moes my vrae en klagtes na die bidplek dra
ek het gekom met soveel huiwering
en gehoop vir slegs u fluistering,
u fluistering, u fluistering
ek het my pyn en hartseer saam gebring
en ook my oortrokke rekening
ek het geweet ek kon dit nooit bedank
ek is te arm en te ver verdwaal,
te ver verdwaal, te ver verdwaal
kon ek ooit vermoed dat hier alleen
deurboorde hande my sou seën
dat hier in my gebrokenheid
ek deel sou word van heiligheid?
van heiligheid, van heiligheid
ek wil weer in u lig kom sit
en by deurboorde voete bid
en soekend deur u boek kom blaai
waar die hemelwinde oor my waai,
oor my waai, oor my waai.
Bidplek deur Koos van der Merwe
Luister hier na die lied: https://www.youtube.com/watch?v=zHNAPJpgEVE&ab_channel=Prophet-Topic
“Maar wanneer jy bid, moet jy na jou kamer gaan. Maak dan die deur toe sodat niemand jou kan sien nie, en bid tot jou Vader. En jou Vader wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, sal goed wees vir jou.” Matteus 6:6 ABA
Tydens Lydenstyd word jy genooi om elke dag ‘n tydjie af te staan. Vind in jou voorbereidingsweek ‘n plek om daagliks jou tyd van afsondering en gebed deur te bring.
Jesus sê: “As jy bid, gaan dan na ’n stil plek toe .” Hy nooi ons om ‘n bidplek te kry. Dit kan ‘n hoekie in jou huis wees. Dit kan ‘n vertrek in jou huis wees. Dit kan enige plek wees. Kry vir jou ‘n plek, ‘n fisiese plek.
Wat belangrik is, is dat as jy na daardie plek gaan, moet jy na jou “binnekamer” gaan (Matt 6:6 AFR53). Hierdie is beeldspraak. Nêrens in argeologie kon navorsers ‘n plek kry met ‘n binnekamer nie. Die binnekamer is beeldspraak om te sê jy moet jou afsonder. Jy moet volledig die ritme van die alledaagse gang van jou lewe breek, sodat jy jou volle aandag kan gee.
‘n Ou kerkvader het gesê jou ingesteldheid is die belangrikste ding as jy met die Skrif na daardie plek toe gaan. Dis ‘n wete dat God vir jou wag. God is daar vir my. God verlang na hierdie oomblik wanneer ons saam kan verkeer.
Doen dit:
Vind jou bidplek. Wat het jy nodig om voor te berei sodat jy daagliks jou volle aandag kan gee? As jy na jou plek toe gaan, staan ‘n bietjie stil voordat jy ingaan en kyk na jou bidplek. Sê vir God dankie: “Dankie vir hierdie oomblik. Dankie vir hierdie geleentheid. Ek glo U is hier. Ek glo U wil my ontmoet en iets in my doen. Ek nooi U uit: kom. Doen iets in my en praat met my.”
Gebed om te herhaal:
Here, gee my die genade om my volle aandag aan U te gee.
Scripture
About this Plan
Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.
More