YouVersion Logo
Search Icon

kykNET Lydenstyd Gids 2023Sample

kykNET Lydenstyd Gids 2023

DAY 16 OF 39

Week 2: Vrede

Dag 5: Vrede As Ingesteldheid

"Mense wat vrede maak tussen mense, is gelukkige mense. God sal sê hulle is sy kinders" Matt. 5:9 ABA.

Jesus gee ons sy vrede. Hy wys ons die lewe van ‘n vredemaker. Die manier om met vrede te leef word nie bepaal deur hierdie wêreld se gebeure en omstandighede nie. Paulus skryf ook in Filippense 4:6-7 oor hierdie vrede wat omstandighede en gedagtes en emosies te bowe gaan:

"Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus" Filippense 4:6-7.

Die Griekse woord vir “besorg” beteken ook om uitmekaargeskeur te wees, om in skerwe te lê, om stukkend te wees. Dis ‘n manier waarop ons dikwels begin funksioneer.

Paulus sê, julle word uitgenooi na ‘n ander manier van lewe. Daar is 'n ander struktuur, innerlike funksionering, wat jy kan betree. Ten spyte van dit wat met jou aangaan, en ten spyte van dit wat in hierdie wêreld om ons gebeur, en ten spyte van hoe dit in jou lewe lyk, kan jy met God lewe.

Hy sê hierdie soort lewe sal deur vrede gekenmerk word. Dit is wat na jou toe sal kom as jy bewus kan word van God wat met jou is, en met daardie bewussyn kan lewe. God sal vir jou vrede gee. Eugene Petersen vertaal vrede met 'n "gevoel van heelheid, van alles wat ten goede meewerk". Jy kan met ‘n ingesteldheid leef dat alles in jou lewe uiteindelik ten goede sal meewerk.

Dis ‘n diep geloof dat my lewe in die hand van ‘n goeie God is, en dat God dit wat ook al my pad kruis, sal laat meewerk; en dat dinge goed sal uitwerk, maak nie saak hoe dit nou vir my lyk nie.

Doen dit:

Elke keer wanneer jy vandag iets raaksien wat stukkend,gebuig, in stukke of geskeur is, bid die herhalende gebed en vertrou dat die Here alles ten goede sal laat meewerk in jou lewe.

Gebed om te herhaal:

Here, ek vra die genade om U vrede, wat alle verstand te bowe gaan, te ervaar.

Scripture

Day 15Day 17

About this Plan

kykNET Lydenstyd Gids 2023

Jy word genooi om die saligsprekinge van Jesus in jou lewe in te werk. Die Lydenstyd is dus ‘n tydperk om jou te vereenselwig met Jesus se lewe in lyding. Die saligsprekinge nooi ons om, saam met Jesus, op ‘n nuwe manier te lewe in ‘n wêreld van angs, vrees, onsekerheid en lyding. Dit is die pad wat min kies, maar Jesus het. Ons volg Hom deur lyding, na saligheid.

More