YouVersion Logo
Search Icon

Die Belangrikheid Van GebedSample

Die Belangrikheid Van Gebed

DAY 6 OF 43

Prys die Naam van die Here

Lees: Psalm 145

SOAP: Psalm 145:2–3

Elke dag wil ek U loof,

ek wil u Naam altyd prys.

Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,

sy grootheid is ondeurgrondelik.


Oordenking

Dawid het hierdie lofpsalm (en vele ander) geskryf om sy aanbidding vir God uit te basuin. Hy het God se grootheid en ontsagwekkende krag herken en wou hê dat alle mense die Here sou prys. Dawid het geweet wie God is en wat God gedoen het. Dawid het baie jare met God gewandel, Hom vertrou en op Hom staat gemaak vir al sy behoeftes. Hoewel Dawid nie perfek was nie, was een van die vele dinge wat hy goed gedoen het, om vir ons 'n raamwerk te gee oor hoe ons die Here voortdurend kan loof.

As gelowiges in Christus is dit ons roeping om in hierdie donker, gevalle wêreld God se lig te wees en om God deur ons liefde, gedrag en woorde te verheerlik. Wanneer ons lewe 'n lofprysing tot God is, wys ons voortdurend vir die wêreld wie ons God is en wat Hy gedoen het. As ons die Here in die openbaar loof, getuig ons van sy grootheid en sy soewereiniteit. Wanneer ons harte in ooreenstemming is met wat Hy deur gebed in ons lewens en ons omgewings doen, kan ons sy hand duideliker sien. Wanneer ons Hom loof, erken ons sy optrede, sy sorg, sy liefde en sy krag.

Om 'n lewe van lofprysing te leef, wys nie net vir die mense rondom ons wie ons volg nie, maar dit bring ons harte ook in lyn met God s’n. In plaas daarvan om net ‘n klomp versoeke tot God te rig, herinner lof ons aan die majesteit van God. Gebed is nie net 'n geleentheid om ons behoeftes en versoeke voor God neer te lê nie, maar dit is 'n geleentheid om Hom te aanbid. Ons lof bring Hom eer elke keer as ons Hom dit bied.

Hoe gereeld prys jy God onder diegene wat Hom nie ken nie? Hoe dra jy jou geloof oor aan die volgende generasie? Hoe kan jy vandag begin om die Naam van die Here te verkondig met jou woorde, jou gesindheid, jou gedrag en jou gehoorsaamheid aan Hom?

Gebed

Vader, u koninkryk is ewig en u heerskappy staan vir ewig. Here, op elke gebied van my lewe het U sulke wonderlike werke gedoen. Here, gee my asseblief die moed om lewe en waarheid te spreek in die lewens van diegene wat U nie ken nie. Laat my lewe, my gedrag en my liefde vir mense U goed verteenwoordig. In die Naam van Jesus, amen.


Day 5Day 7

About this Plan

Die Belangrikheid Van Gebed

As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.

More