Die Belangrikheid Van GebedSample
Vind Tyd vir Gebed
Lees: Matteus 14:23; Markus 1:35
SOAP: Markus 1:35
Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid.
Oordenking
Dwarsdeur die verslae in die evangelies oor Jesus se lewe op aarde is daar baie kere wat Hy van ander af weggegaan het om te bid. Een keer was dit nadat Hy baie siek mense genees het, insluitende Petrus se skoonmoeder, en terwyl baie mense na Hom gesoek het. ‘n Ander keer was nadat Hy meer as 5 000 mense gevoed het. En ‘n ander keer het Hy weggeglip nadat Hy pas sy laaste maaltyd met sy dissipels gedeel het.
Jesus het dikwels gekies om na ‘n stil plek te gaan om tyd in die teenwoordigheid van sy Vader deur te bring. Dikwels was dit nadat Hy wonderwerke verrig het. Soms was dit voor ‘n groot gebeurtenis. Ongeag die omstandighede, sien ons dat Jesus die teenwoordigheid van ander verlaat om in die teenwoordigheid van sy hemelse Vader te sit.
Ons hoor gereeld opmerkings wat ons vertel dat as Jesus tyd alleen met God nodig gehad het, ons dit des te meer nodig het. Alhoewel dit waar is, en ons absoluut tyd nodig het om saam met ons hemelse Vader deur te bring, is dit moontlik dat daar meer aan Jesus se aksies was. Jesus wou tyd saam met sy Vader deurbring. Jesus het geweet dat die Vader sy bron, sy onderhouer, sy troos en sy vreugde was. Jesus het nie net weggegaan om tyd alleen met God deur te bring wanneer Hy dit nodig gehad het nie, maar om sy verhouding met God verder te verdiep.
Waarop ons kan fokus uit gedeeltes soos hierdie, is nie bloot dat Jesus in die teenwoordigheid van God moes wees nie, maar dat Hy begeer het om in die teenwoordigheid van God te wees. Hoe meer ons gebed as ‘n prioriteit in ons lewens stel, hoe meer sal ons begeer om in God se teenwoordigheid te wees. Hoe meer tyd ons met Hom deurbring, hoe meer herken ons die vreugde en vrede wat slegs uit sy teenwoordigheid kom. Jesus het gereeld tyd alleen met die Vader gesoek. Mag ons ook leef op ‘n manier wat ons kosbare, onskatbare tyd saam met God bewaak en beskerm.
Gebed
Hemelse Vader, U alleen is my bron. U alleen is waar ek vreugde, vrede, troos, voorsiening, genade en liefde vind. Help my om weg te draai van afleidings, verpligtinge en ander mense, sodat ek tyd saam met U ‘n prioriteit kan maak. Help my om die tye in my dag raak te sien wanneer ek na U toe moet draai eerder as na ander afleidings. In die Naam van Jesus, amen.
Scripture
About this Plan
As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.
More