YouVersion Logo
Search Icon

Die Belangrikheid Van GebedSample

Die Belangrikheid Van Gebed

DAY 12 OF 43

Die Krag van Gebed 

Lees: Lukas 8:40–42, 49–56; Handelinge 9:36–43 

SOAP: Handelinge 9:40

Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”


Oordenking

Petrus het groot geloof aan die dag gelê toe hy ingegaan het na Tabita toe, ‘n getroue Christen wat gesterf het. Die gebeure rondom Tabita se dood word baie dieselfde as die verhaal van Jaïrus se dogter in Lukas 8 beskryf. Jaïrus se dogter en Tabita was albei reeds dood. In albei gevalle was ‘n groot klomp rouklaers daar saamgetrek. In albei gevalle is die skare uit die vertrek gestuur. Die ooreenkomste is waarskynlik nie toevallig nie, aangesien Lukas die skrywer is van die evangelie van Lukas, sowel as die boek Handelinge. 

Petrus het gesien hoe Jaïrus se dogter opgewek word. Hy het toegekyk hoe Jesus haar uit die dood laat opstaan het. Petrus het baie ander sulke wonderwerke aanskou, maar hierdie keer was dit hy wat groot geloof moes beoefen. Petrus het neergekniel en gebid. Voordat hy probeer het om Tabita uit die dood te laat opstaan, het hy hom gewend na die enigste Een wat mag oor die dood het. Toe het hy dieselfde woorde gesê wat Jesus gebruik het om Jaïrus se dogter lewendig te maak: “Staan op!”

Petrus het nie op sy eie krag staatgemaak vir ‘n wonderwerk nie. Hy het hom in gebed na Jesus gewend. Hy het geweet waartoe Jesus se opstandingskrag in staat is, en hy het geglo dat dieselfde krag deur die Heilige Gees in hom teenwoordig was. 

Ons het dalk nie die voorreg om met ons eie oë te kon sien hoe Jesus wonderwerke gedoen het nie, maar ons het die voorreg om terug te kyk na God se getrouheid. Ons kan staatmaak op God se getrouheid om vandag se gebed te verhoor, omdat Hy ons in die verlede geantwoord het. Hy het ons dooie harte lewendig gemaak. Hy het verhoudings herstel. Hy het liggame genees. Hy het harte verander. Hy het werk voorsien. Hy het baarmoeders oopgemaak. En Hy kan dit weer doen.

Hy doen steeds vandag wonderwerke. Ons kan met verwagting daarna uitsien dat Hy weer die onmoontlike gaan vermag.

Gebed

Vader God, U is die God wat die onmoontlike vir my kan doen. Here, kom in die areas van my lewe waar ek hoop en geloof verloor het. Here, openbaar u groot mag en getrouheid om die stukkende en mislukte dinge in my lewe weer lewendig te maak sodat U verheerlik mag word. Help my om vreedsaam af te sien van enigiets wat nie binne u wil vir my is nie. In die Naam van Jesus, amen.


Scripture

Day 11Day 13

About this Plan

Die Belangrikheid Van Gebed

As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.

More