Die Belangrikheid Van GebedSample
Bid Jubelend in Hoop
Lees: Romeine 5:1–5
SOAP: Romeine 5:1–2
God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.
Oordenking
Daar is net een manier om verlossing te verkry. Daar is net een manier om vrede met God en die ewige lewe saam met Hom te hê. Daar is net een manier om as regverdig voor God gereken te word en net een manier om vrede in die lewe te hê: alleenlik deur genade. Ons word deur God se genade verlossing gebied. Slegs deur geloof word ons regverdig verklaar, en dit is geloof in Christus alleen. Ons word net as gevolg van God se genade gered. Dit is ook deur God se genade dat ons nuut gemaak word.
In Christus is ons nuut; splinternuut. In Christus is jy ‘n nuwe skepping, vervul met die Heilige Gees. Jy word herskep as kind van God, vol van sy liefde, vrede, vreugde, hoop en genade. As gevolg hiervan kan ons ons verheug in ons swaarkry, omdat ons weet dat ons swaarkry volharding in ons voortbring. Hierdie volharding kweek karakter, en daardie karakter kweek hoop.
Namate ons dag vir dag al hoe meer na die beeld van Christus herskep word, werk Hy deur ons swaarkry om hierdie volharding, karakter en hoop voort te bring. Jy is God se meesterstuk, geskep vir ‘n spesifieke doel. Hy verander jou dag vir dag om meer en meer soos Christus te wees sodat jy hoop aan ‘n ongelowige en lydende wêreld kan bring. Dit is alles tot eer van God en net tot sy eer.
As gevolg van wat Christus gedoen het, kan ons na God toe gaan. Ons kan op niks anders roem as die werk wat Christus gedoen het nie. Net Hy het vir ons toegang tot God bewerkstellig, en vir ons vrede, vreugde en hoop gegee. Dit werk saam sodat ons lewens God kan verheerlik. Ons het hoop dat ons Hom eendag gaan sien wanneer ons in die hemel met Hom verenig is.
Gebed
Vader God, dankie dat ek nie meer dieselfde persoon as voorheen is toe ek U nog nie geken het nie. Bemagtig my, Here, met u opdrag, sonder vrees, sonder onsekerheid, sonder twyfel. Herinner my dat enigiets en alles goeds in my lewe net as gevolg van U is. Dankie dat u maatstaf vir sukses anders is as myne. Herinner my elke dag daaraan dat U my nie geroep het om suksesvol, gemaklik, welvarend of selfs uitstekend te wees nie; U het my geroep om net getrou te wees. In die Naam van Jesus, amen.
Scripture
About this Plan
As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.
More