YouVersion Logo
Search Icon

Die Belangrikheid Van GebedSample

Die Belangrikheid Van Gebed

DAY 3 OF 43

Wees Toegewyd aan Gebed

Lees: Handelinge 2:42–47

SOAP: Handelinge 2:42

Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.





Oordenking

Die eerste volgelinge van Jesus Christus is geken aan hulle eenheid, toewyding om die leer van Jesus te volg, toewyding aan mekaar in diens en gemeenskap en hulle toewyding in gebed. Die vroeë kerk gee vir ons 'n voorbeeld van hoe volgelinge van Jesus altyd toegewyd moet wees in gebed. Gebed is noodsaaklik vir ons geloofslewe en vir eenheid en gemeenskap met ander gelowiges.

As volgelinge van Christus het ons die gawe van gebed ontvang. Gebed stel ons in staat om intiem met die almagtige God te kommunikeer. Ons weet dat God na ons luister wanneer ons bid, en ons kan vol vertroue wees dat Hy sal antwoord. Deur gebed voed en bemoedig God ons in ons geestelike groei. Terwyl ons groei in gebed, pas ons ons lewens, diens en bediening aan by God se wil.

Gebed is ook 'n kragtige wapen wat ons kan gebruik in geestelike aanvalle. Wanneer ons toegewyd is in gebed, is ons in staat om die leuens van die vyand te bestry en te weerstaan wat hy ook al mag probeer.

Voordat ons egter al die voordele van gebed kan smaak en die betekenis daarvan verstaan, moet ons in gebed toegewyd wees. Gebed anker ons en hou ons harte gevestig op die Een wat gebed kan beantwoord. Dit stel ons in staat om meer te weet van God se karakter en liefde vir ons terwyl ons sien hoe Hy ons gebede verhoor en daarop reageer. Hoe meer tyd ons in gebed deurbring, hoe meer tyd spandeer ons saam met ons hemelse Vader.

Soos ons met hierdie studie oor gebed begin, is dit ons doel om ons begrip van die betekenis van gebed te vergroot, 'n ritme van gebed te vestig en kragtig te bid vir ons geliefdes, ons gemeenskappe en die wêreld. Laat ons ons toewy in gebed terwyl ons strewe daarna om die Een te ken tot wie ons bid.





Gebed

Vader, U het alles vir u plesier geskep, elke dag verlang U na 'n intieme en eerlike verbinding en kommunikasie met my. Here, wat 'n wonderlike voorreg is dit om U te ken! Here, verwyder asseblief alle hindernisse wat keer dat ek daagliks tot U bid. Here, help my om gebed ywerig 'n prioriteit te maak. Here, maak gebed my eerste reaksie op enige omstandighede, nog voordat ek enigsins optree. In die Naam van Jesus, amen.


Scripture

Day 2Day 4

About this Plan

Die Belangrikheid Van Gebed

As jy graag nader aan jou Verlosser wil kom deur gebed ‘n prioriteit in jou lewe te maak, dan is Die Belangrikheid van Gebed vir jou. Ons gaan tyd deurbring in God se Woord, antwoorde kry op vrae oor hoe ons moet bid, hoe om gebed ‘n prioriteit te maak en hoe God gebed verhoor. Mag God deur hierdie studie ons oë oopmaak vir die wonder en voorreg van gebed.

More