Die Grootste GeskenkSample
Dankbaarheid vir Gawes
Lees: Filippense 4:10–20
SOAP: Filippense 4:18–19
Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.
Oordenking
In ‘n wêreld wat aan ons uitskree dat ons nog meer moet koop, meer moet hê, meer moet doen, bied Jesus vir ons ‘n pragtige opsie om die uitroepe van die kultuur stil te maak: vergenoegdheid.
Toe ek klein was, het my Kersfeeswenslysie bestaan uit die nuutste speelgoed wat ek Saterdagoggende op tekenprente gesien het, of die oulikste uitrustings wat ek omkring het op die kettingwinkelkatalogus wat in November in ons posbus beland het. Voeg resensies op sosiale media en YouTube daarby, dan is my dogter se wenslys nóg langer—en baie meer ingewikkeld—vol items wat ek weet sy nie nodig het of veel langer as Kersoggend gaan geniet nie.
Miskien werk dit in jou huis ook so dat wanneer ‘n vakansiedag waarop geskenke gegee word, nader kom, ons noukeurig let op al die “goed” wat ons reeds besit. Ons soek ‘n paar items wat ons graag vir ‘n vriend wil gee, of items wat ons weet vir iemand anders groter vreugde sal verskaf sodat ons plek kan maak vir iets nuuts. Maar uiteindelik besin ons oor hoe dankbaar en vergenoeg ons was met wat ons reeds het. Is die “moet hê”-speelgoed en speletjies wat eenkant toe gegooi is, besig om stof te vergaar of klaar flenters? Wys die manier hoe ons dit wat ons reeds besit, opgepas het dat ons gereed is vir wat ons wil aanskaf?
Toe Paulus hierdie brief aan die Filippense geskryf het, het hy hulle meegedeel dat hy die geheim van ‘n vreugdevervulde lewe ontdek het: om vergenoegd te wees ongeag sy omstandighede. Òf dit in tye van nood of tye van oorvloed was, òf hy vry of in die tronk was, òf hy honger of versadig was, Paulus was tevrede omdat hy vreugde in die Here gevind het. Paulus het geweet dat hy swak is en dat Jesus in elke behoefte sou voorsien. God sal dieselfde vir ons doen. Laat ons vir Hom dankie sê!
Gebed
Vader, U is vrygewig en liefdevol, en ek is so dankbaar dat U — ongeag my omstandighede — altyd meer as genoeg is. Help my om ‘n rukkie tot stilstand te kom en met ‘n dankbare hart na te dink oor alles wat U in my lewe gedoen het sodat ek in hierdie seisoen vergenoegd en vol van u vreugde kan wees. Amen.
Scripture
About this Plan
Hierdie ses weke lange Bybelstudie is daarop gemik om ons harte voor te berei om die grootste van alle geskenke te vier: Jesus Christus. Hierdie studie fokus op die karakter van God en wat dit beteken om ‘n lewe van dankbaarheid te lei. Namate ons die Adventstyd binnegaan, sal ons ‘n paar van die gawes wat God in Jesus vir ons gegee het, bestudeer, naamlik: hoop, geloof, vreugde en vrede.
More