Die Grootste GeskenkSample
Die Here is Goed
Lees: Psalm 100
SOAP: Psalm 100:1–5
Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap!
Kom voor Hom met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne,
ons is sy volk, sy eie kudde. Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange,
dank Hom, prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie,
sy trou duur van geslag tot geslag.
Oordenking
Het jy al ooit ‘n gesang, aanbiddingslied of Kerslied gehoor wat jou dieper in voeling met God laat voel het? Miskien het dit iets van sy karakter onthul wat jy nooit geweet het nie, of die lirieke het dalk van hoop en genesing gespreek oor die situasie waarin jy jou bevind het. Musiek is ‘n gawe wat ons help om stories te vertel, lof te besing, en te vier wie God is, wat Hy gedoen het en wat Hy nog gaan doen.
Die skrywer van vandag se psalm besing Israel se spesiale verhouding met God en nooi almal uit om God vir sy getrouheid te loof. Hierdie is nie die soort gesamentlike aanbidding waar daar gestaan en die woorde gemompel word nie — nee, dit het met ‘n spesiale voorskrif gekom om met blydskap te aanbid!
Kom ons leer uit die psalmis se voorbeeld en skryf vandag ons eie lofpsalm. Wat is dit omtrent God waaraan jy met ‘n vreugdevolle hart erkenning wil gee en loof? Watter gawes het God aan jou gegee waarvoor jy Hom kan dank? In watter areas van jou lewe het jy hierdie jaar God se liefde en getrouheid ervaar? Watter gebede het Hy verhoor? Wat beteken dit vir jou dat God jou geskape het, jou geroep het om aan sy ewige familie te behoort en oor jou waak?
Bid of sing jou woorde terug aan God met soveel blydskap as wat jou hart kan bevat! Ons God is goed en waardig om deur ons geloof te word!
As jy nie weet waarvoor om God vandag te loof nie, hoekom begin jy nie sommer om vandag se Skrifgedeelte vir Hom terug te bid nie?
Gebed
Here, U alleen is God. U het my gemaak en verklaar dat ek aan U behoort. U het my in u huisgesin ingenooi en U beskerm my en sorg vir my! Vader, U is goed en ek dank U vir u blywende liefde en getrouheid. Amen.
Scripture
About this Plan
Hierdie ses weke lange Bybelstudie is daarop gemik om ons harte voor te berei om die grootste van alle geskenke te vier: Jesus Christus. Hierdie studie fokus op die karakter van God en wat dit beteken om ‘n lewe van dankbaarheid te lei. Namate ons die Adventstyd binnegaan, sal ons ‘n paar van die gawes wat God in Jesus vir ons gegee het, bestudeer, naamlik: hoop, geloof, vreugde en vrede.
More