YouVersion Logo
Search Icon

Ware SpiritualiteitSample

Ware Spiritualiteit

DAY 2 OF 7

Om vir God te gee wat Hy wil hê

Romeine 12 begin met ’n beroep om jouself aan Hom oor te gee – ’n beroep om nie langer vir onsself te leef nie, maar slegs vir God. Ook om eerlik te wees en dit is ’n reuse struikelblok in ons verhouding met Hom.

Nadat ek Christus aangeneem het, het ek verskriklik gesukkel om my hele lewe aan Hom oor te gee. Ek het gedink om my lewe vir Hom te gee, sou beteken ek moes dinge prysgee waarop ek gehoop het.

Ek wou trou, maar ek was bang God wou my enkellopend hê of dalk wou Hy hê ek moet met iemand trou van wie ek nie hou nie. Ek het gedink Hy sou vir my sê ek moet ophou basketbal speel en ’n sendeling word. Ek het aangeneem dat sy wil “goed” sou wees, maar nie lekker nie.

My stryd het voortgewoed tot een aand toe ek ná aandete saam met vriende huis toe ry. Dit het gelyk asof hulle alles het wat ek wou hê – ’n goeie huwelik, ’n gelukkige huis, harte wat aan God behoort – terwyl ek gesukkel het.

Toe het God hierdie vers vir my gegee:

"Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?" (Romeine 8:32).

Jy sien, God soek volledige beheer oor ons lewens, maar Hy ken ons harte en wil vir ons goed wees.

Sy wil vir ons is goed. Om dit te bewys, het Hy reeds vir ons die grootste geskenk van alles gegee – sy enigste Seun.

Deesdae wanneer ek ons roeping beskryf om ’n lewende offer te wees, gebruik ek nie die woorde “oorgawe” nie, maar “algehele verbintenis”. Die rede is:

· Oorgawe fokus op wat ons prysgee. Dit klink asof dit net opoffering inhou en geen voordele nie.

· Algehele verbintenis is ’n herevaluasie van dit wat belangrik is. Ons besef wie God is, wat Hy vir ons gedoen het en wat Hy ons roep om te doen.

Is jy bereid om ’n niksseggende lewe prys te gee vir ’n lewe wat tot in die ewigheid lonend is? Verbind jou volledig tot Christus. Bied jouself as ’n lewende offer aan Hom. Jy sal beloon word met ’n lewe van vreugde en ware spiritualiteit.

Scripture

Day 1Day 3

About this Plan

Ware Spiritualiteit

Hoe lyk ’n ware Christenlewe? Romeine 12, een van die kragtigste gedeeltes in die Woord, skilder vir ons die prentjie. In hierdie leesplan sal jy leer oor ware spiritualiteit namate God jou lewe omskep — jou gedagtes, sieninge oor jouself, verhoudings met ander en jou stryd teen die bose. Begin om die beste van God te ontvang en beïnvloed só die wêreld op ’n diepgaande manier.

More