Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample
STERF
“... as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” – Johannes 12:24
'n Broeder het vir Abba Moses gesê: "Ek het 'n taak wat ek nie kan afhandel nie." Die ou man sê toe vir hom: "As jy nie sterf soos een wat in 'n graf is nie, sal jy nie die taak kan bemeester nie."
Abba Moses gee vreemde raad aan iemand wat ’n belangrike taak moet afhandel. Hy sê jy moet jouself verbeel dat jy alreeds dood is en in die graf lê. Die woestynvaders nooi ons uit om ons sterflikheid gedurig in gedagte te hou. Nog ’n voorbeeld hiervan is waar Abba John die Dwerg sê: "Lê in 'n graf asof jy alreeds dood is, sodat jy te alle tye kan onthou dat die dood baie naby is.” Dit klink met die eerste aanhoor morbied, maar as jy wel hierdie oefening doen deur jouself as alreeds dood te sien, kan jy dalk die voordeel van hierdie oefening ervaar. Wanneer ons onsself heeltemal met ons taak identifiseer, kan ons begin twyfel in ons vermoëns, twyfel of ons dit werklik sal kan doen, ons wonder en gee om wat ander mense van ons sal dink. Maar as ons aan onsself dink as dood, val alles wat nie belangrik is nie weg. Ons word net met onsself gekonfronteer en dit kan ’n innerlike vryheid meebring.
Daar word vertel dat Abba Macarius iemand na die begraafplaas toe gestuur het om op die dooies te gaan skreeu en hulle te vertel hoe sleg hulle is. Hy het na die begraafplaas toe gegaan en op die dooies geskreeu en hulle met klippe gegooi. Met sy terugkeer het die vader hom gevra hoe hulle gereageer het en hy sê toe dat hulle niks gedoen nie. Hy het hom weer die volgende dag teruggestuur en hom gevra om hulle te gaan prys en hulle te vertel hoe goed hulle is. Hy het teruggegaan en hulle vertel hoe wonderlik hulle is en hulle gekomplimenteer. Met die man se terugkeer was sy vraag, wat die reaksie van die dooies was en hy het hom geantwoord: “Niks nie.” “Só moet jy word” was die reaksie van die ou woestynvader. Moenie deur die lofprysing van mense opgeblase word nie en ook nie deur wat hulle dink of sê afgebreek word nie. Dít maak jou vry om te kan doen wat gedoen moet word.
'n Monnik se sel is soos die vuuroond in Babilon, waar die drie jongmanne die Seun van God gevind het. En dit is soos die wolkkolom waar God met Moses gepraat het. - Woestyngesegde
GEDAGTE VIR DIE DAG
“. . . as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” – Johannes 12:24
VIR NADENKE
Neem ’n paar oomblikke om terug te dink aan jou dag. Is jy vandag geprys? Wat was jou reaksie en hoe het jy daaroor gevoel? Wat het toe in jou gebeur? Is jy vandag gekritiseer? Hoe het jy gevoel daaroor? Praat met die Here hieroor.
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More