Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample
MOENIE OORDEEL NIE
“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie.” – Matteus 7:1
“Om jou naaste af te sterf, behels die volgende: dra die verantwoordelikheid van jou eie foute en moenie aandag skenk aan iemand anders wat wonder of hulle goed of sleg is nie. Moenie iemand kwaad aandoen nie, moenie slegte gedagtes oor iemand koester nie, moenie die man wat bose dinge doen minag nie, moenie op iemand vertrou wat sy naaste kwaad aandoen nie, moenie bly wees saam met iemand wat sy naaste seermaak nie, moenie wrede gedagtes oor enigiemand koester nie, moenie jou hart haat of domineer nie." – Abba Moses
“Een van die broeders het gesondig, en die priester het gesê dat hy die gemeenskap moes verlaat. Ab Bessarion staan toe op en stap saam met hom uit en sê: "Ek is ook 'n sondaar!" – Woestynstorie
"Moenie oordeel nie," sê Jesus. Die verhaal word vertel van Abba Moses wat uitgenooi is na die verhoor van iemand wat gesondig het en waaroor die gemeenskap moes besluit wat om te doen. Hy het ’n groot beker gevat met ’n gat daarin, dit vol water gemaak en daarmee na die vergadering gegaan. Toe hy daar kom het hulle gevra: "Wat is dit, Vader? Daar is niks in jou beker nie." Sy antwoord was: "My sonde het uitgeloop op pad hierheen. Ek kan niks sien nie. Hoe kan ek vandag kom om iemand anders te oordeel oor wat hy verkeerd gedoen het?" Toe hulle dit hoor, het hulle almal eendragtig gereageer en besluit om die persoon wat gesondig het te vergewe vir wat hy gedoen het. In een van die beskrywings word gesê dat die heiligheid van Vader Antonie so groot was dat hy in stilte vooruitgegaan het na die plek waar sy goedheid so groot was dat hy geen ongeregtigheid gesien het nie. Abba Moses verduidelik hoe dit vir ons ook ’n prakties realiteit kan word: “As jy aanhoudend oor jou eie foute dink, sien jy nie die foute van jou naaste raak nie.” Die idee was as ons in stilte en afsondering met ons eie sondes te doen kry en dit kan laat vaar, sal dit ons in staat stel om ook ander te kan aanvaar, te vergewe en hulle ongeregtigheid te kan laat vaar. Om insig oor ons eie sondigheid te kry en ons oordeel teenoor andere te laat vaar, stel ons in staat om blymoedig te wees. Die waarheid word geïllustreer deur hierdie woestynstorie: “'n Sekere broeder het na Ab Poemen toe gekom en gesê: "Vader, wat moet ek doen? Ek is baie hartseer." Die oudste antwoord hom toe: "Moet nooit iemand versmaai nie, moet nooit iemand veroordeel nie, moet nooit kwaad praat van iemand nie, dan sal die Here jou vrede gee.”
GEDAGTE VIR DIE DAG
“Moet nooit iemand versmaai nie, moet nooit iemand veroordeel nie, moet nooit kwaad praat van iemand nie.” – Abba Poemen
VIR NADENKE
Vra die Here om jou hart te verlig met die lig van sy genade. Is daar iemand wat jy vandag geoordeel het? Watter gevoel het dit in jou wakker gemaak? Praat met die Here hieroor en vra om hierdie persoon deur sy oë te mag sien. Vra die Here om jou hart te ondersoek, vra vir insig oor jou eie swakhede en wees eerlik met Hom oor jou eie tekortkominge. Vra om God se genade te beleef en om dit met andere te kan deel.
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More